In die hartjie van Despatch is daar ‘n tuin waar rare en skaars bome en plante gedy.
Wanneer dit blomtyd word, gee Kierie Slabbert bye en ander insekte goeie kompetisie soos hy met kruisbestuiwing van spesies eksperimenteer.
Een van die rare bome wat tans in sy tuin aan die blom is, is die Colvillea Racemosa, ook genoem Colville se glorieboom. Dié boom blom in die herfs en het pragtige sowat voetlange helder-oranje-rooi trosblomme, wat hemels is vir voëls en insekte.
“Die voëls is mal oor die blomme. Hulle verkort eintlik die blomtyd want hulle breek die blommetjies af op soek na ek weet nie wat nie. Dié boom is inheems aan Madagaskar en was op ‘n stadium daar amper uitgeroei,” sê Slabbert.
“Wanneer die boom se sade reg is, is dit wanneer ons die sterk winde in September kry. Dan waai die meeste weg, maar ek het darem seker so twaalf boompies oor my leeftyd van dié boomspesie gekweek gekry.”
Hy verduidelik sy fassinering met rare plantspesies, veral aalwyne en waterslimplante, is aangewakker deur die plantkundige David Spencer Hardy, wat destyds aan die Pretoria Nasionale Botaniese Tuine verbonde was. Hy het juis by Hardy dié glorieboom as klein boompie gekry.
“Baie van die plante hier in ons tuin is sade of plantjies wat ek destyds by hom gekry het. Wat ook interessant is, is dat baie van Madagaskar se plante goed op Despatch aard. Die dorp se klimaat is baie goed.”
Een van dié plante in Slabbert se tuin wat hy by Hardy gekry het, is ‘n baie skaars en bedreigde aalwynspesie (Aloe Suzannae), wat in die 1970s internasionaal belangstelling gelok het.
“‘n Foto van die aalwyn-in-blom het in ‘n plaaslike koerantjie verskyn. Dié foto het oorsee beland en mense van dáár het my opgesoek. Hulle het selfs by Pik Botha se kantoor gaan uitvind en so het hulle my op Despatch opgespoor. Ek het vandag nog dié brief uit Kanada oor navrae oor die Aloe Suzannae in blom.
“Dit was die eerste en enigste keer ooit dat daardie Suzannae geblom het.”



