VW

Die T-Roc se bakwerk met sy gespierde lyne. Swart plastiekafwerking oor die wielboë help om meer kuite te wys en gee die T-Roc ’n aantreklike stillering. Foto’s: HEILIE COMBRINCK

Ouma Vrystaat in die T-Roc langs die goue mielielande. Foto: HEILIE COMBRINCK

“Heito . . . maar dit is ’n windgat-kar!”

Nou, vir Ouma Vrystaat om dít te sê, móét ’n voertuig net daardie anderste iets hê, want sy is ’n boervrou wat haar voertuie ken én uitstekend bestuur.

Maar dié keer is sy passasier in VW se nuutste sportnuts-ramkat, die twee-liter turbo-aangejaagde T-Roc R-Line om die lang pad vanaf die Vrystaatse plaas na Cradock te vat.

Op die plaaspad was dit stadig oor die klippers – nie omdat daar plaaseiers en drie vet pampoene van sowat 14kg elk in die bagasieruim is nie, maar oor die laeprofielbande.

Maar, toe die T-Roc met sy 7-spoed dubbelkoppelaar outomatiese ratkas die teerpad vat, het dit gevoel jy raak deel van ’n simfonie van (verstandige) spoed met die breë sierrooster, geïntigreerde kopligte en ’n beneukte vooraansig wat die musieknote is.

Boonop is die ratoorskakeling ’n seepgladde kragsensasie, veral as die ritmodus-opsie in “sport” is. Ons snel verby die Vrystaat se mielies wat hoër as ses voet op die lande staan en dit word prentjies van heuninggoud wat verbygly.

“Oe! Daai boer sal almanak moet ophang,” roep Ouma uit.

Wat beteken dit?

“Dit is al Mei-maand, die mielies moes nou al uitgedroog gewees het. Junie is strooptyd. Die boer is so ’n bietjie laat, die ryp gaan sy mielies vang.”

Die drie reuse plaaspampoene van 14kg elk in die T-Roc se bagasieruim.

Slim bestuurdersvriendelike elektronika

Die T-Roc se slim IQ Driver-stelsel met sy elektroniese bestuurder-bystandtoerusting, waarsku hoorbaar en wys op die inligtingskerm wanneer daar gevaar of ry-fout is. Ook wanneer dit bene-rek-tyd is. Daar is blindekol- en voetganger monitors, pakeerbeheer, intelligente spoedbeheer, selfstopfunksie, stabiliteitsbeheer, baandwaal-waarskuwing en ook aandag-afdwaling van die bestuurder.

Al hierdie bestuurdersvriendelike elektronika het naderhand begin voel soos ’n kombinasie van ’n navigator én ’n skouervlieg (back seat driver) wat saamry.

Maar dit bied bykomende selfvertroue agter die stuur – veral wanneer verkeersvloei skielik haak weens die magdom slaggate op die Vry-staatse paaie of die honderde mangaantrokke tussen die Baai en die noorde.

Kleursensasies vars uit VW se T-stal

Die T-Roc, vars uit Volkswagen se T-stal, is 80mm langer as die T-Cross nuweling en 162mm korter as die Tiguan staatmaker. Die grootmeneer in die T-stal is natuurlik die Touareg.

Die T-Roc is ’n VW Golf-gebaseerde sportnutsvoertuig, net so bietjie breër en korter.

Die bakwerk se gespierde lyne en swart plas-tiekafwerking oor die wielboë help om meer kuite te wys en gee die T-Roc ’n aantreklike sti-lering. Wat my van die binneruim opval, is die tikkie R-Line rooi wat hier en daar elegante kontras bied.

En natuurlik die tweekleurafwerking waarvan die Vienna-leersitplekke die mooiste is. Die binneruim-beligting is slim op fokusareas aan-gebring. Die slimligte wat in die donker by die kantspieëls en deure aangaan met die in- of uitklim, bied gemoedsrus.

Vir diegene wat ’n T-Roc wil huis toe vat, is daar meer as 20 verskillende kleure om van te kies vir bakwerk-kleurkombinasies.

Jy kan ook jou persoonlike kleurkombinasies vir die binneruim kies.

Inside

Die T-Roc R-Line se binneruim met die tikkie R-Line rooi wat hier en daar elegante kontras bied. En natuurlik die tweekleurafwerking waarvan die Vienna-leersitplekke die mooiste is. Foto: QUICKPIC

Aptyt vir rygenot en pampoenkoekies

Ons ry oor die Oranjerivier, bulderend met vloedwaters, duskant Colesberg.

“Jislaaik, is ons al deur die Vrystaat?” vra Ouma verbaas.

Jip, die T-Roc se rygenot en werkverrigting is in ’n klas van sy eie in die kompakte medium sportnutsvoertuigmark. Net so is plaasvarseiers en Vrystaat-erfenispampoene heeltemal in ’n klas van hul eie!

Kortliks

Ons rit oor die sowat 2 000km Vrystaat toe en terug se gemiddelde brandstofverbruik was 8.2 liter per 100 km.

Die T-Roc kom uit in die intreemo-del 1.4 TSI / 110 kW Triptronic Design met ’n 8-spoed outomatiese ratkas; dan is daar die 2.0 TSI / 140kW 4Motion Design en die vlagskip 2.0 TSI / 140 kW 4Motion R-Line, albei met ’n 7-spoed dubbelkoppelratkas en vierwielvastrap. Die T-Roc R-line waarin die skrywer gery het, se standaardprys is R593 600.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article