Die tuisveld en sportfasiliteite van die Oostelike Provinsie se onoorwonne klubrugby-kampioene sedert 2018, Progress Rugbyklub, is in n onbruikbare toestand weens voortdurende vandalisme.
Dit is skokkend om te sien hoe dit daar lyk – basies is nog net die mure van die vertrekke onder die pawiljoen oor. Die vandaliste het alles uitgeruk en weggedra – van toiletbakke deur na kaste, yskaste, rakke, elektriese kabels en kragtoevoereenhede.
“Dit is die laaste munisipale rugbyfasiliteit op Kariega wat nog redelik bruikbaar was. Die vandalisme hou net nie op nie. My vraag is, waar word dit wat hier gesteel word, verkoop en waar is wetstoepassing?” vra Kosie Basson, president van Progress Rugbyklub.
“Ek neem plaaslike skrootwerf-eienaars en boumateriaal-besighede wat gesteelde goed koop, kwalik. Dit is soos ‘n derde mag wat verantwoordelik is vir die dorp se verval omdat hulle vandalisme befonds en vooruitgang van ons gemeenskappe vir eie gewin vernietig.
“Dit moet stop, ons kan nie langer agteroorsit en hoop iemand gaan iets doen nie.”
Basson sê die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit moet dit ‘n prioriteit maak om toe te sien dat sportfasiliteite soos die Sentrale Sportveld op Kariega, wat munisipale eiendom is, se sekuriteit en beveiliging in plek is. Die munisipaliteit is wel tans besig om dié sportveld se grensmure te herstel en te verhoog in ‘n poging om vandale uit te hou.
“As die munisipaliteit net vir Progress gesamentlike bestuur oor die veld wil gee, sal ons sélf instandhouding- en verbeterings doen en dit sal hulle honderde-duisende rande spaar.”
Volgens Basson is Kariega een van die dorpe in Suid-Afrika met ‘n ryk rugbygeskiedenis wat strek oor 130 jaar, sedert Swifts Rugbyklub se ontstaan in 1891.
Dié einste rugbyklub se sportvelde, wat later jare deur Uitenhage Rugby-klub gebruik is, se pawiljoen en klubhuis is nou net murasies nadat vandaliste tydens die streng 2020 pandemie-inperking begin het om dit af te breek. Dié vernietiging duur voort en stene word steeds dag na dag sonder keer weggery.
“Kariega se mense is rugbymal en honger vir goeie rugby. Ons wil toernooie hier aanbied maar kan nie weens dié vandalisme,” sê Basson.
Franay van der Linde, ’n wyks-raadslid van Wyk 48, sê dié sportveld is op haar prioriteitslys sodat aandag aan die nodige sekuriteit en instandhouding geskenk kan word.
Volgens polisiewoordvoerder kaptein Gerda Swart waarsku die polisie die publiek om versigtig te wees om tweedehandse goedere of in dié geval boumateriaal te koop.
“Om gesteelde goedere te koop is ’n misdaad. Mense wat gevang word met gesteelde goedere in hul besit word as medepligtiges beskou. Tweedehandse handelaars word deur die wet verplig om behoorlik rekord te hou van die goedere in hul besit,” sê kapt. Swart.





