DIE soeke na unieke, eg-Suid-Afrikaanse produkte wat lag en liefde deel van ’n geskenk maak in ’n tyd van leed waarin almal hoop op beterskap, hoef Karieganaars en Despatchers nie meer na die Baai te laat pad vat nie.
Op dié twee dorpe is daar ’n paar winkeltjies met só ’n verrassende verskeidenheid, jy kan jou oë nie glo nie.
Die UD Express het by vier van dié unieke winkeltjies (wat ook ’n platform bied aan plaaslike kunshandwerkers, bakkers en brouers) gaan inloer om te kyk wat daar alles te koop is. Daar is ook twee vrae aan die eienaars gevra:
1. Wat in die winkel sou jy vir jouself as present gee?
2. Wat in die winkel sou jy vir ‘n bekende persoonlikheid gee?
Da Vat Hy Outdoor
By Graaff Reinetweg 71A op Kariega is Da Vat Hy Outdoor waar ’n mens ’n uiteenlopende verskeidenheid van jagklere, allerlei varswater- sowel as seehengelgerei, handgemaakte items, tuisgebak en -gemaak sowel as gevriesde pasteie kan kry.
Terwyl die manne jagklere pas en tussen die visvang-goeters en katoeters rondhang, kan die vroue solank ’n paar heerlike tuisgebakte of ingelegde eetgoed vir die huis kry. Daar is ook handgemaakte juwele en ander klein kunswerkies.
Die eienaars is Rudi en Tina Kruger en Tina sê sy sal beslis vir haar een van die Wildebees-baadjies as geskenk wil gee. Rudi sê hy sal graag ‘n Wildebees-baadjie aan Springbokrugbyspeler Eben Etzebeth wil gee.
Boerboel
In Despatch by Hoofstraat 42 is daar ’n Boerboel van ’n ander formaat. Hy byt nie met tande nie, maar dié klere-reeks het sy byt in die Suid-Afrikaanse mark gekry met sy sexy kortbroeke vir mans asook T-hemde met raakvat Afrikaanse gesegdes.
By dié winkel is daar ook vellies, ’n verskeidenheid souse wat brand soos Kaptein Brandt en Annie Brandt, T-hemde vir baie groot manne, gereedskap, Jim Green-items en in die yskas pronk Boer Cola.
Die eienaars is Lisa en Norman Schnetler. Lisa sê as geskenk vir haarself sal sy beslis ’n geskenkpak opmaak met Kaptein Brandt sous en Jumping Jackal se knoffel-mayonnaise. Dan nooi sy sanger Brendan Peyper uit om van Boerboel se kortbroeke daar in die winkel te kom aanpas.
Stasie 6 Geskenkwinkel
Oorkant die stasie op Despatch is daar Stasie 6 Geskenkwinkel waar ’n ma-en-dogter met hul fyn smaak en keurige kombinasies van binnehuise-versierings enige vertrek van hul klante behoorlik kan optower.
Daar is ook ’n verskeidenheid van plaaslike sowel as Suid-Afrikaanse kleremakers se handewerk in die winkel te sien. Lolla Kemp en haar dogter Lize Gerber, deel die liefde vir mooigoed wat dié geskenkwinkel vol hang.
Lolla sê sonder twyfel sal sy haarself bederf met een van Swier se lapkunsitems soos ‘n kussing, voorskoot of tafellap. Stasie 6 is die enigste in die Oos-Kaap waar Swier-produkte te kry is. As dit kom by ‘n geskenk aan iemand bekends, sê Lolla sy sal beslis ook ‘n Swier-dekoritem vir Carike Keuzenkamp of Nádine wou gee.
Lize sê sy sal haarself bederf met van die huisdekor en haar braaiarea oordoen. En vir Karlien van Jaarsveld sal sy graag een van Pronkerig se funky-uitrustings as geskenk wil gee.
4 Seasons Winkel
By Orsmondstraat 3 op Despatch wag ’n aangename verrassing vir geskenksoekers by die 4 Seasons Winkel van Annemarie Momberg.
Hier is klerereekse van onder meer Plaasbul,-Plaasbok, Malboer, Wie’s Bang, Bokomo-broeke en Grumpy Monkey-kouse. As dit by geskenke vir jonk en oud kom, is die verskeidenheid absoluut oorspronklik en oorweldigend.
Daar is ook souse en speserye met tong-in-die-kies name.
Annemarie sê wanneer sy iets ouliks op internet sien, “Maak ek seker daar is nie ‘n ander winkel op die dorp wat dit ook verkoop nie. Elkeen van ons bied unieke produkte en daar is plek vir elkeen om ‘n bestaan te maak. Ons gun mekaar elkeen se uniekhied.”
As geskenk sal sy haarself met een van die handkunswerk-wynbokse bederf en as geskenk vir ‘n bekende wil sy graag vir Bobby van Jaarsveld ‘n Woesmooi-onderbroek gee.



