DIE ATKV Sonneblomtak en Vriende van Despatch en Uitenhage het onlangs deel gehad aan die landswye projek deur “Golden Vaal Blanket Drive” om die grootste handgebreide kombers te brei.
Dié groot kombers is in Sasolburg op ’n rugbyveld uitgelê en daarna is die rekord as die grootste handgebreide kombers in die Guinness Book of Records opgeteken!
“Ons het soveel gewillige hande gekry om saam te brei. Wat verstommend was is dat daar nog soveel ouer garde is wat nog ‘n verskil in ander se lewens wil maak en die jong mense wat nie kon brei nie, het nuwe talente ontdek,” sê Anette Becker van ATKV Sonneblomtak op Despatch.
Die breiprojek het oorgespoel in ’n ander projek, om knie-komberse te brei vir mense wat tans in ’n tehuis in Wernichstraat, Despatch woon.
“Ons is baie dankbaar vir elkeen wat gehelp het. Dankie ook aan Symara op Despatch wat vir ons skenkings gegee het; Estelle’s van Uitenhage vir die afslag en aan die dames van “Ribbons for Roses” van Port Elizabeth wat gehelp brei en hekel het,” sê Becker.
Die knie-komberse is met groot dankbaarheid verlede naweek deur die inwoners van die tehuis ontvang.



