Lizé Saunders (Pay it Forward), Luana Bester skoolhoof van Laerskool Innes en Anneli Gouws (Pay it Forward) by van die Weetbix wat aan die skool geskenk is.

Foto: Heilie Combrinck

‘n Ontbytpap-projek wat in 2019 die lig gesien het na aanleiding van die kosnood by skole, sorg vanjaar weer dat voedingsprojekte se spenskaste volgehou word.

Dié projek is ’n uitvloeisel van die Pay it Forward-gemeenskapsinisiatief waar inwoners van Kariega, Despatch en Kirkwood aangemoedig word om “goed te doen aan ander”.

Anneli Gouws, een van die groep vroue wat met dié inisiatief begin het, sê hulle het deur Pay it Forward bewus geword van die kosnood by plaaslike skole en het begin om donasies van Weetbix aan te vra.

“Een mens kan nie die wêreld verander nie, maar jy kan die wêreld van een mens help verander deur goed te doen,” sê Anneli.

Luana Bester, skoolhoof van Laerskool Innes sê, “Hierdie Weetbix gaan soveel kinders se magies volmaak en dit is fantasties.

“Ons is dankbaar vir die guns wat Laerskool Innes het en hoeveel die skool kry. Ons vra nie eens hiervoor nie. Dit beland net hier op ons stoep. Baie dankie aan Pay it Forward en die gemeenskap vir julle ondersteuning.”

Lizé Saunders van Pay it Forward sê dat buiten die skenking Weetbix, hulle ook weekliks kospakkies vir 80 kinders na Laerskool Innes bring.

Volgens haar word die Pay it Forward Christusfees van 14 tot 23 Oktober met ‘n uitgebreide program aangebied.

“Ons gaan weer by soveel moontlik skole in die omgewing bedien, daar gaan ‘n gospelaand gehou word, ‘n seminaar oor finansiele aspekte, Lynette Beer gaan onderwysers toespreek en daar gaan ‘n vrouetee gehou word,” sê Lizé.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article