Dit is weer tyd vir ‘n week van omgee op Despatch, Kariega en Kirkwood tydens die Pay it Forward-fees wat van 15 tot 23 Oktober gehou word.
“Die fees word aangebied om mense op emosionele, finansiële, intellektuele sowel as geestelike vlak hoop te gee en toe te rus met lewensvaardighede om die lewe vir hulself beter te maak,” sê Lizé Saunders, ‘n organiseerder van Pay it Forward Christusfees.
“Die doel van die fees is geskoei op die ou legende van ‘gee iemand ‘n vis en hy/sy kan vir ‘n dag eet, maar gee iemand ‘n visstok en hy/ sy kan vir ‘n leeftyd eet’. Ons wil mense toerus om beter keuses te maak en om ook daardie raad oor te dra aan ander.”
Dit is ‘n week propvol positiewe aanbiedinge en geleenthede vir die publiek om self ‘n verskil te help maak in hul omgewings.
- Die volledige program en kontakbesonderhede is beskikbaar op die Pay it Forward Christusfees webtuiste: www.pifcf.co.za
8-14 Oktober: Sewe goed-doen uitdagings
Tydens dié week word die publiek uitgedaag om ‘n verskil te help maak aan iemand anders se lewe, ‘n dier se lewe en ook in die natuur.
Die sewe dae se onderskeie take is (in volgorde):
- Bel ‘n pel;
- Gee vir iemand iets te ete;
- Skenk bloed;
- Bederf iemand met koffie;
- Plant ‘n boom;
- Blikkieskos by versamelpunte (Despatch Superspar, Levyvale Superspar, Kraaines, Pick n Pay Despatch);
- Dierekos vir Uitenhage DBV (by dieselfde afsetpunte as die blikkieskos).
Sonja du Preez, Pay it Forward organiseerder sê hulle gaan ook olyfbome by die oefenpark langs Despatch se hoofstraat plant as deel van die fees se aktiwiteite.
15 Oktober: Wilco Naumann finansiële seminaar
Wilco Naumann skrywer van God en Geld gaan ‘n voldag seminaar (09:00 tot 16:00) aanbied waar hy gaan praat oor hoe om finansies op God se manier te bestuur.
Sukkel jy om uit die skuld te kom, of om ‘n begroting op te stel, dan is dié seminaar net die geleentheid om jou finansiële vaardighede op te skerp.
Die seminar word by Despatch Revival Church aangebied en die koste is R50 (ete, werkboek en hoofstuk uit sy boek God en Geld ingesluit).
16 Oktober: Covid-herdenkdiens
Dié massa-herdenkdiens word in samewerking met raadslid Frans Swanepoel op die WJ De Wet-pawiljoen by Despatch Sentrale Sportveld om 12:00 aangebied ter herinnering van almal wat tydens die pandemie gesterf het.
“Volgens Frans was die meeste oproepe tydens die streng inperking nie van mense wat kos nodig gehad het nie, maar mense wat om hulp gevra het om van geliefdes wat tydens die pandemie gesterf het afskeid te neem.
“Dit was ‘n onmoontlike taak. Nou gee ons almal die geleentheid om nie net afskeid te neem nie, maar ook die lewens te vier van diegene wat by die dood omgedraai het,” sê Sonja du Preez.
Motiveringspreker Lynette Beer sal die diens lei en sanger Carindé van Schalkwyk sal optree. Paul Barnes is die gasspreker. Almal is welkom en toegang is gratis. Huis Najaar sal verversings te koop aanbied.
17 Oktober: Musiekwerkwinkel
Die musiekgroep Onbeskaamd bied die werkwinkel oor klank om 19:00 by Huis van Heerlikheid, Chasestraat 4 op Kariega aan.
Alle belangstellende musikante van alle genres sowel as sangers is welkom.
Die klankhantering van verskillende instrumente sal afsonderlik bespreek word.
Onbeskaamd is ook Maandag tot Vrydag (17-21 Oktober) by skole waar hulle saam met Karoolus en Lente gaan optree.
18 & 19 Oktober: Lynette Beer gesels met onderwysers
Lynette Beer gaan afsonderlik met laerskool (18de) en hoërskool (19de) onderwysers gesels oor wedersydse respek en hoe om kinders beter te verstaan.
“Ons almal is verskillend met verskillende temperamente. Mense sukkel soms om met ander oor die weg te kom. Lynette gaan gesels oor hoe om ander en veral kinders in ‘n onseker en verbrokkelende samelewing te verstaan en die wedersydse respek wat dit behels,” sê Lize Saunders.
21 Oktober: Gospelaand
Verskeie musikante gaan gratis om 19:00 by AGS Lighuis Despatch optree. Dit sluit in: Onbeskaamd, Karoolus en Lente, Leon Ferreira, Carindé, en John Nelson.
22 Oktober: Vrouetee
“Ons harte roep uit na hoop. Mense het nodig om te weet daar is ‘n uitweg, daar is hoop,” sê Lizé.
Lynette Beer is die spreker en sy gaan gesels oor Geanker in Hoop. Carindé van Schalkwyk sal as sanger optree met Luana Bester as die programleier.
Die vrouetee is om 10:00 by die Lighuis Christelike Sentrum Despatch. Almal wat registreer om die vrouetee by te woon sal ‘n skakel ontvang om ‘n temperamentstoets (ter waarde van R200) gratis te kan doen.
Kaartjies is R50 en sluit ‘n ligte ete in. Daar is verskeie gelukkige (én groot) pryse soos bedlinne, ‘n kamerstel, ‘n skottelgoedwasser, boeke, CD’s, sowel as ‘n koffiemasjien wat gewen gaan word.
Die eerste 50 vroue wat hul name, vanne, en selfoonnommer na 078 894 9365 WhatsApp sal gratis kaartjies ontvang.
23 Oktober: Danie Botha
Die Pay it Forward-fees word afgesluit met ‘n konsert deur Danie Botha by Huis van Heerlikheid afsluiting om 18:00. Toegang is gratis.





