KLEURVOL tussen die watsonias pronk die T Cross in sy helder Makena turkoois, op pad water toe.


NA water … waar daar rus, vryheid én avontuur is …dít is waarheen Volkswagen se T Cross, met die oranje Tarka Vagabond-kajak op die dakrak, my neem.

Alles van dié dinamiese T Cross sportbuks is keurig ontwerp om die pas aan te gee in ‘n mark wat hou van avontuur en wegbreek van die alledaagse.

Die astrante R-Line bakwerk, windgat 17-duim allooiwiele, gerieflike binneruim, nege kleure om van te kies (waarvan die die energieke-oranje en vars Makena turkoois die mooiste is) en nog ‘n hele paar ander unieke eienskappe, is wat die T Cross ‘n veelsydige ryding maak.

Topverkoper

Skaars het Volkswagen die T Cross op Suid-Afrikaanse paaie losgelaat of dié nuweling was binne twee maande dié motorvervaardiger se topverkoper van sy ingevoerde modelle. Dié T Cross-oprapery het bygedra dat VW se markaandeel tóé opgeskiet het na die hoogste in tien jaar.

Die mees indrukwekkende kenmerk van die T Cross is die drie silinder 1.0 TSI turboaangedrewe enjin van die Comfortline- en Highline modelle, wat 85kW krag gee en spog met besonder lae brandstofverbruik. Dié modelle het ‘n 7-spoed DSG ratkas wat al te gewillig reageer. Veral die sport-opsie sorg vir goeie opwinding met ‘n diep grom onder die enjinkap. Dit was nou wraggies verrassend, want dit klink of daar beslis meer as net ‘n eenliter enjin agter dié gegrom en krag sit!

Leef in die oomblik

Om in die oomblik te leef, is wat tel. Daarom bied die T Cross veel meer as net ryplesier. Volkswagen spog ook dat dié T Cross met al sy konneksie- en data-opsies voor in die koor is. Dit bied selfs vier USB konneksiepunte. Jy kan ook jou bestuursprofiel bestudeer, motorwerkverrigting dophou en jou musiek en selfoon gerieflik vanaf die stuurwiel aktiveer en rangeer.

Op die raakskerm navigasiepaneel kyk ek na die paaie en riviere wat ons tussen Port Elizabeth en Knysna kruis. Sjoe … daar is ‘n hele paar “waters waar rus is” waarop ek wil gaan roei!

Jou en jou kar se binneste

Roei is een van die mees inklusiewe avonture om liggaam en siel te verfris. Dit neem jou na weggesteekte natuurjuwele op en langs riviere, mere en mondings. Dit bring heling, maak kalm, suiwer denke en vervul jou wese met nuwe energie … by waters waar rus is gebeur dié dinge met ‘n mens se binneste.

Van binneste gepraat, die T Cross se binneruim is pure Polo DNS, tog verrassend ruim.

Vir naweekbagasie en roeispane is daar genoeg plek, veral as die agterste sitplekke toevou want dan is daar 1 281 liter se pakplek, die meeste in dié kompakte SUV-klas.

‘n Verskeidenheid T Cross-ekstras kan aangebring word wat by jou leefstyl pas.

Brandstofverbruik

Gemiddelde brandstofverbruik tydens die T Cross se toetsrit, wat stadsritte én die oop pad insluit (met ‘n kajak op die dak en soms sterk wind van voor ), was 7.2 l/100km.

In die stad, sonder die kajak, het die brandstofverbruik na ‘n allemintige 4.9l/100km gedaal. Inderdaad baie ekonomies.




Nóg T Cross modelle op pad

Vroeg in 2020 gaan nog twee T Cross modelle op Suid-Afrika se paaie losgelaat word. ‘n Intreevlak 1.0 TSI met 70kW Trendline (5-spoed handrat) wat vir onder R300 000 gaan verkoop en die bielie 1.5 TSI (110kW) R-Line DSG.

Die T Cross se mededingers op die pad sluit in Hyundai Venue, Ford Eco Sport, Honda BR-V en Renault se Capur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article