“My droom het waar geword, en dit alles te danke aan my oupa Connie Wannie. Hy is ses jaar gelede oorlede, maar ek sal sy woorde altyd onthou want dit dryf my lewe!”
Wat was dié woorde wat Dylan Mostert van Kariega uit die kloue van bendes, dwelms, terug op die skoolbanke, regdeur matriek, tot in die Suid-Afrikaanse Polisiediens se opleidingskollege gekry het?
“My oupa het altyd gesê… ‘my kind, dit wat binne in jou is, is groter as dit wat buite is’. Mense het my afgeskryf, maar my oupa was die enigste mens wat in die goeie in my bly glo het.”
Dylan het na graad nege vir twee jaar die skoolbanke verruil vir ‘n lewe op straat. “Op ‘n dag het ek besef met dié lewe van my is ek op pad tronk toe of ek gaan sterwe. My oupa se woorde het my op die regte pad gekry. Ek is terug skool toe en het in 2019 matriek suksesvol by John Walton Sekondêre Skool geslaag.
“My oupa het intussen afgesterwe en dit was vir my baie hartseer dat hy nie in my matriekvreugde kon deel nie. Ook nie nou dat my polisieman-droom waar geword het nie. Daarom wil ek aan my oupa hulde bring. Al is hy nie meer hier nie, bly hy my grootste motivering.”
Dylan begin binnekort met sy opleiding. “As polisieman wil ek ‘n verskil maak. My mikpunt is om eendag die beste speurder te wees. Ek wil die waarheid uitvind en laat seëvier. Waar my oupa is, weet ek hy glimlag breed uit die Hemel ‘Dylan, my seun, ek is trots op jou’, sou hy sê.”
Na Dylan se matriek het die pandemie die wêreld getref. In daardie dae het hy die Sweet Melody Community Band, ‘n gemeenskaps-blaasorkes, begin. Hulle wou weer ‘n bietjie positiwiteit en hoop te midde van die baie hartseer en onsekerheid bring. Die orkes is steeds gewild en is dikwels te hoor by verskeie gemeenskapsgeleenthede.
“Ek speel trompet en drom én kan stokswaai. So dit kan tot my voordeel wees om ook vir die polisie-orkes te speel.”
Dylan sê sy oupa was nie selfsugtig met sy raad en wyshede nie. “Hy was ‘n wyse man vir die hele gemeenskap. Baie mense praat oor Connie Wannie se positiewe invloed in hul lewens.
“Daar moes baie tye gewees het wat my oupa trane in sy oë gehad het oor my. Die Here moet die eer kry, maar my oupa was Sy instrument om my terug te bring om nou my droom te begin leef.”
“Dit vat net een mens om in jou te glo. As my storie ook net een mens inspireer om hul droom na te jaag, sal ek baie bly wees,” sê Dylan.





