Dit is die moeder van Moedersdae as ‘n ouma se 107de verjaardag op dié dag gevier kan word.
Ouma Alie Toring van Kariega is op 8 Mei 1915 gebore en die hierdie afeglope Moedersdag het vriende en familie saam met haar dié groot verjaardag gevier.
In haar leeftyd was daar twee wêreld-oorloë, die Groot Depressie en COVID-19 pandemie.
Sy het die oorskakeling beleef van ponde en sjielings na rand en sent, van slingertelefone na slimfone, van perdekarre tot vandag se vuurwaens én sy het die Suid-Afrikaanse vryheidsstryd vir demokrasie beleef.
Ouma Alie is in Middleton in die Karoo gebore. Sy het haarself bekwaam as ’n vroedvrou en het later jare met Freek Toring getrou.
Hy het op die spoorweë gewerk en hulle het Kariega toe getrek sodat die kinders hier kon skool gaan.
Die Torings het veertien kinders gehad waarvan twee oorlede is.
Ouma Alie is vandag die trotse ma en grootouma van vier generasies en sy het 32 agterkleinkinders. Haar kinders staan nou op die vierde generasie.
Een van haar dogters Lydia Witbooi sê, “Ek glo my ma se geseënde jare is omdat sy glo ’n mens moet jou ouers eer.”
Ouma Alie is nie meer so aktief nie en gebruik n kierie om haar te stut, maar andersins is haar gesondheid goed.
’n Kliniek is nie op haar lys vir besoeke nie, maar die kerk wel. Sy is die oudste lidmaat van Dalestraat Congegational Chuch in Rosedale.
Haar jongste dogter, Margaret Toring, het haar ma se talente geërf. “My ma het haar eie bossies-medisyne gemaak en mense het van ver gekom om daarvan te kry.
“Haar medisyne was baie goed en die mense het geglo aan Ouma Alie se raad.
“Sy was 99 jaar oud toe sy die laaste baba gevang het. Sy het beslis baie meer as 107 babas in haar leeftyd gevang.
“Sy moes selfs op ‘n keer toe ‘n vrou nie betyds by die hospitaal kon kom nie, net daar in die taxi help met die geboorte van die baba,” sê Margaret.
Volgens haar kinders is Ouma Toring die oudste Khoi-vrou in die Oos-Kaap.
Daar is ook sprake dat die Rosedale-kliniek na Ouma Toring vernoem moet word vir haar betrokkenheid in die gemeenskap.


