In die Burkett-gesin se grootste krisisuur het die gemeenskap van Kariega én mense van reg oor die wêreld, van wie hulle die meeste nie ken nie, saamgestaan en só gehelp om hul seun se lewe te red.
“Dit was ’n wonderwerk. Ons as gesin het nie woorde om te beskryf hoe dankbaar ons is vir almal se gebede, boodskappe en goedhartigheid nie,” sê Nicholas “Stumbo” en Lizaan Burkett van Kariega.
Daar was ’n drie maande aanloop tot die Burketts se grootste krisisuur en die wonderwerk wat daarna gevolg het.
Jaydon Burkett (15), ’n graad-10 leerling by Hoërskool Brandwag en ’n kranige rugby-, krieket, en gholfspeler sowel as ’n rolbalspeler van Uitenhage Rolbalklub, het sowat drie maande gelede begin kla van geweldige kopseer.
Hy het aanvanklik fisioterapie vir die pyn ontvang en is later deur dr. Bruce du Plessis met vaskulêre hoofpyne gediagnoseer.
“In die tien dae onder medikasie het Jaydon meer geslaap as in sy hele lewe. Hy het dubbelvisie begin kry en toe merk ek op sy oog trek skeef en dog dalk is sy oë die probleem.”
Hy is na Avendra Subramanien by Spectrum Optical Optometrists op Kariega vir ’n oogtoets en daar is vasgestel dat hy geweldige swelling agter sy optiese senuwee gehad het.
Die volgende oggend het dr. Du Plessis laat weet Jayden moet dringend na Netcare Greenacres Hospitaal vir ’n MRI skandering gaan. ‘n Halfuur na die MRI het die neurochirurg dr. Sajid Ansari vir Jaydon se ouers gesê daar is massabloeding van 6,5 by 4,5 cm wat sy brein met 1,5 cm geskuif het en dat hy onmiddelik geopereer moes word.
Maar daar was ’n groot struikelblok: die hospitaal wou ‘n deposito van R250 000 hê voor die noodoperasie kon plaasvind.
“Op aandrang van dr. Ansari, wat bevestig het dat dit ’n kwessie van lewe en dood was, het die hospitaal R100 000 aanvaar,” sê Lizaan.
In dié spanningsvolle tyd vir die Burketts, het Carien Niemand, ’n familievriend se dogter, ’n fondsinsameling begin om Jaydon se mediese onkostes te help betaal.
Jayden is geopereer.
“Al wat vir ons getel het, was Jaydon se lewe. Met ons Hemelse Vader se genade was die operasie geslaagd. Dr. Ansari het gesê hy het nog nooit in sy loopbaan ‘n geval van soveel bloeding gesien wat nie fataal was nie,” sê Lizaan.
“Jaydon was verlede Donderdag vir ’n opvolg CT-skandering en dr. Ansari is baie tevrede met die herstelproses.”
Jaydon is weer terug op die skoolbanke, maar sal nooit weer aan kontaksport kan deelneem nie. Hy kan egter weer sy gholfstokke gaan swaai en rolbal speel.
“Dit is oorweldigend en ongelooflik dat soveel mense bereid was om ons kind te help. Ons het dit van niemand verwag om ons finansieël te help nie. Maar baie, baie dankie aan elkeen, dit het Jaydon se lewe gered. Dit was regtig ’n wonderwerk,” sê die Burketts.





