Anrich Nortjé met sy toekenning.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Anrich Nortjé met sy toekenning.

Oud-Brandwagter Anrich Nortjé is onlangs vir die tweede keer as die SA krieketspeler van die jaar aangewys.

Nortjé het dieselfde toekenning ook in 2021 ontvang, maar, weens die COVID19-pandemie, was verlede Vrydag die eerste keer dat die toekennings weer by ’n gala-aand aangekondig is. Nortjé is boonop in elk van die kategorieë vir mans genomineer.

Nortjé het vroeg in sy Brandwag-dae reeds op die krieket- en rugbyveld uitgeblink voordat hy, weens die risiko van verdere beserings, besluit het om sy aandag alleenlik op krieket toe te spits.

Die toekenning as KSA se manspeler van die jaar, vir die tweede keer, plaas Nortjé in ’n kategorie van sy eie: Geen krieketspeler van Kariega het al hoër hoogtes in krieket behaal nie.

Die UD Express het met Nortjé se skoolafrigter, oud-Brandwag-onderwyser Francois Anker, gesels oor die nuutste hoogtepunt in Nortjé se loopbaan.

“Hy is nederig,” is die eerste ding wat Anker oor Nortjé gesê het. “Sy karakter en sy agtergrond is sy behoud,” aldus Anker. “Baie ouens verdwyn na beserings, maar hy het nog elke keer weer teruggekom en hy word net beter,” het Anker gesê.

Nortjé is getroud met sy Brandwag skoolliefde Micaela (née Klue) wat op haar dag kaptein van die eerste netbalspan was en ook OP-kleure vir netbal verwerf het. Nortjé het kort na verlede Vrydagaand se toekennings reeds na Texas in die VSA vertrek vir deelname aan die Major League Cricket in Indië wat op 14 Julie begin.

Anrich Nortjé toe hy vir die Hoërskool Brandwag krieket gespeel het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article