DIE inperkingstyd is ’n groot demper wat die wêreld tot stillstand gebring het, maar op Uitenhage het ’n groep jong musikante dié tyd as ’n uitdaging gesien om met hulle musiek te probeer om gemoedere te lig en ’n positiewe boodskap te laat opklink.
Vlak vyf se strawwe inperkings weens die COVID-19 pandemie was vir Dylan Mostert en Geordren Deerling die ideale tyd om hul blaasinstrumente op te neem en musiek te maak. Dit was ook in dié tyd dat hulle besluit het om die Sweet Melody Community Band blaasorkesgroep te stig.
“Musiek is ons groot passie. Met die samelewing wat tot stillstand gekom het en selfs kerke se deure wat toe is, het musiek vir ons groot ontvlugting gebied,” sê Dylan, ’n trompetspeler.
Geordren het sy mede-musikante van die seunsbrigade ingelig oor hul plan om die orkes te stig en meeste van hulle het akkoord gegee en so het die gemeenskapsorkes begin.
Dylan sê die naam Sweet Melody Community Band is vir hulle soos herlewing, want heelwat van die orkeslede was 10 jaar gelede deel van ’n orkes met dieselfde naam.
“Ons leef in ’n tyd vol pessimisme wat talentvolle jongmense beroof van drome en ideale. Maar musiek is magtig en met ons gemeenskapsorkes wil ons nie net onsself konstruktief besig hou nie, maar ook ’n positiewe impak in ons gemeenskappe maak,” sê hy.
Die groep speel graag gewyde musiek en Geordren sê omdat kerkdeure toe is, mis mense dit om hul geliefde gesange te hoor of te sing.
“Dit is vir ons lekker om te sien hoe mense dit geniet en hoe hulle ons ondersteun,” sê Geordren.
Om op te tree in die tyd van pandemie is senutergend en ’n groot aanpassing, maar die orkeslede hou streng by die inperkingsmaatreels. In dié tyd het hulle by begrafnisse opgetree sowel as op uitnodiging in die gemeenskap, om mense se swaar gemoedere te probeer lig.
Geordren sê die orkes is baie versigtig en hou by die inperkingsreëls.
“Ons kan nie maskers dra as ons musiek maak nie, maar ons hou ons veilige afstand. Andersins sorg ons dat ons ons hande sowel as blaasinstrumente gereeld was of ontsmet,” sê hy.
Die twee stigterslede sê ander jong musikante uit die gemeenskap wat wil aansluit by die Sweet Melody Community Band is welkom. Hulle beplan ook om met fondsinsamelingprojekte te begin om nuwe instrumente aan te koop.
Dylan sê, “Ons hoop en vertrou om baie ander jong seuns en dogters te inspireer om ook met hul musiektalente ’n positiewe verskil in ons gemeenskappe te help maak.
“Dit is ons gebed en vurige wens dat onse Hemelse Vader ons families en land behoed en bewaar en veral die land sal genees.”
- Vir meer inligting oor die blaasorkes bel Dylan Mostert by 061 695 3237 of epos dylanmostert1998@gmail.com



