PIFCF bou ’n huis vir ’n inwoner van Lapland, Kariega, wat deur die Junie-vloede geraak is. Foto: VERSKAF


’n VISIONÊR word beskou as ’n innoverende persoon, ’n siener en ’n dromer. Iemand wat geïnspireerd is om aksie te neem en grensverskuiwende werk te doen in hulle gemeenskap.

En dis presies hoe die drie stigterslede van die Pay It Forward Community Foundation (PIFCF), Sonja du Preez, Lizé Saunders en Anneli Gouws, beskryf kan word vir hulle baanbrekerswerk in die gemeenskap, die afgelope ses jaar.

Toe dié stigterslede besef hoe groot die voedselnood in skole rondom hulle werklik is, kon hulle nie anders as om hande bymekaar te sit en te begin werk nie. Met volharding en baie gebede begin hulle toe hul eerste voedselnood projek in 2019 en sedertdien klop PIFCF se hart warm vir hulle gemeenskap.

Met verskeie suksesvolle projekte en getuienisse oor die lewens-veranderende boodskappe wat aan leerders gebring word wat tema’s soos respek, selfbeeld, en liefde insluit, gee hulle weer hoop aan die wat hoop verloor het.

Tans reik die organisasie uit na 15 skole in Kariega, Despatch en Gqeberha, en bereik hulle sowat 15 000 leerders in ’n skoolweek. Hierdie getal het drasties toegeneem vandat hulle begin het en daarom kan Du Preez en Saunders nie anders as om te beaam dat die stories tydens uitreike hulle diep aanraak, en dat die nood in die gemeenskap en die dankbaarheid wat hulle ontvang hulle motiveer om aan te hou nie.

Met stigterslede wat sulke groot harte het is dit nie verbasend dat hulle net ’n verskil plaaslik maak nie, maar sowel as in Namibië waar die organisasie tans ’n sesjarige seun met ’n breingewas ondersteun.

“Om na kinders se fisiese nood te kyk is een aspek van dit (PIFCF se voedselnood uitreike), en dis ’n baie groot nood wat ons regtig het in skole, maar ons harte strek verder en dieper as dit want ons hele hart is om ouers, gesinne en kinders te onderrig,” sê Saunders, wat ook hierdie jaar ’n projek op die been gebring het wat skole se graad 10 en 11 leerders besoek om hulle raad te gee oor hoe om met finansies te werk. ’n Projek wat Saunders, self ’n besigheidseienaar, glo van onskatbare waarde sal wees in die kinders se lewens ná skool.

Toe die hoendervleis woorde, “Mamma…pappa…as ons vanaand doodgaan sal ons darem saam doodgaan,” van ’n seun wat saam met sy ouers in hulle dak moes wegkruip tydens die Junie vloede verlede jaar, by Du Preez uitgekom het, het dit haar so diep geraak dat sy dadelik met haar hele hart begin uitreik het na die inwoners van Lapland, Kariega.

Daardie vloede het talle inwoners weerloos gelaat en te danke aan goedhartige skenkings van besighede in Nelson Mandelabaai (wat PIFCF ondersteun) kon kos, klere, komberse, dakplate en meubels geskenk word aan behoeftige inwoners van Lapland, Rosedale en Greenshields. Die skenkings het dit ook moontlik gemaak vir die PIFCF om vir ’n 78-jarige inwoner van Lapland, verlede November, ’n huis bou en ten volle te meubileer nadat sy haar huis verloor het in die vloede en vir weke by haar buurvrou op die grond moes slaap. Hulle beoog om nog drie huise te bou in Lapland later dié jaar.

Met die jaar alreeds volstoom aan die gang, is die stigterslede van die Pay it Forward Community Foundation kinderlik opgewonde oor hulle opkomende projekte. Twee spesifieke projekte is heel bo aan die prioriteitslys. Daar word gepoog om uit te reik na gesondheidswerkers in die voorste linie as teken van dankbaarheid vir hulle harde werk en ook om hulle voedselnood uitreike te laat groei sodat geen kind honger moet ly nie.

Om betrokke te raak by Pay it Forward Community Foundation (PIFCF) se vele uitreike, kontak Sonja Du Preez by 064 537 4228 of besoek www.pifcf.co.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article