Die Gillespiestraat-stortingsterrein moes reeds begin Oktober weer oopgestel geword het, maar die hekke is steeds gesluit. Foto:HEILIE COMBRINCK


DIE Gillespiestraat-stortingsterrein op Uitenhage is opgegradeer en moes einde September sy hekke oopgemaak het, maar dit bly toe en die area word besoedel deur ongeduldige inwoners wat nie van dié munisipale diens gebruik kan maak nie.

Pieter Terblanche, raadslid van wyk 51 sê geen van die departemente betrokke of kontrakteur kan redes gee hoekom die stortingsterrein, twee maande na die afgeedatum, steeds gesluit is nie.

“Na wat ek verneem het van die konsultant wat die projek oorgegee het aan die kontrakteur Ikhono Group, is dié kontrakteur slegs R500 000 van die R3.5 miljoen deur die Nelson Mandela-baai-munisipaliteit betaal vir die opgradering. Alle klein-, middelslag- en mikro-ondernemings wat betrokke was is betaal,” sê Terblanche.

“Ek kan nie die inwoners blameer dat hulle vullis voor die hek aflaai nie.

“Owerhede wéét Desember is veral die tyd wanneer inwoners toenemend gebruik maak van stortingsterreine.

“Intussen het ons gereël dat ’n groot vullishouer daar neergesit word en dat ’n voertuig elke oggend die vullis optel sodat dit nie die hele area vol waai en besoedel nie.”

Volgens Terblanche is die operasionele deel van die stortingsterrein voltooi, maar is daar wel kleiner addisionele werke aan die opsigters-kantoor wat nog nie afgehandel is nie.

“Intussen het ons verneem dat dié opgegradeerde kantoor se waterpype en ablusiefasiliteite al klaar onder vandale deurgeloop het,” sê Terblanche.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article