’n OUD-REKTOR van die destydse Onderwysers- kollege in Port Elizabeth, dr. Louis van der Walt, wat op Uitenhage en Despatch veral bekend was vir sy passie vir die natuur en om die omgewing plastiekvry te kry, is op die ouderdom van 88 na ’n beroerte oorlede.
Van der Walt was ’n bekende gesig op Uitenhage, waar hy vir jare saam met sy geliefde hond Brussow, in die strate geloop en doppies opgetel het.
Sy vrou, Marietjie, sê dit is hoekom hy die naam “Oom Doppies” gekry het.
“Waar ons ook al in dorp stilgehou het, het die kar-opassers met sakkies vol plastiekdoppies na hom gekom in ruil vir ’n fooitjie wat hy hul gegee het. Hy het hulle altyd aangemoedig om die dorp te help skoonhou en om veral doppies op te tel.”
Buiten sy liefde vir die natuur was Van der Walt ook ’n kultuurmens.
“Hy was ’n vreeslike voorstander daarvan dat elke kultuurgroep regoor die wereld, hul taal suiwer moet hou en hul kultuur moet koester. Hy het geglo dat elke mens se taal en kultuur maak dat jy aan ’n kultuurgroep behoort en dat deel van ’n mens se hartsgeluk juis daarin lê dat jy jou kultuur moet beleef en uitleef.
“Respek en ordentlikheid was vir hom baie belangrik. Hy was baie daarop gesteld dat verskillende kultuurgroepe mekaar moet respekteer en ordentlik wees teenoor mekaar.
Sy liefde vir die nauur was ’n passie wat hy met Marietjie gedeel het. Sy sê hy was “oneindig lief en besorgd oor my, maar wat ek die meeste van hom gaan mis, is sy passie vir die natuur. Ons het baie gaan stap, veral in ons gunsteling plek, die Tsitsikamma. Daar kon ons die natuur bewonder en geniet, van die kleinste blommetjie tot die grootste ou bome.
Sy sê sy glo aan lewenssiklusse en dat alle elemente weer moet teruggaan aarde toe. Daarom wil sy eendag haar as juis daar tussen die varings van die Tsitsikamma laat strooi.
Brussow, Van der Walt se geliefde hond, is in 2018 oorlede en ook veras. “Dit was ‘n vreeslike droefheid. Oom Louis wou nog altyd sy assies hier in die tuin bêre, maar het nooit so ver gekom nie. Ek het toe maar sy assies daar tussen my spinasie gestrooi. Ek moet sê, dit was die lekkerste spinasie met sulke donker groen gesonde blare.”
Van der Walt was voorheen ook verbonde aan die Onderwyserskollege in Oudtshoorn. Na sy aftrede het hy onder andere skilderklasse by Llise Dodd geneem. Hy het ook gedig en ’n bundel laat druk wat hy aan elke familielid gegee het. Op die omslag was een van sy skilderwerke van hom en Marietjie wat tuur oor die see. Van sy digwerk is in versamelbundels opgeneem.
’n Gedenkdiens is Sondagmiddag vir hom gehou. Van der Walt laat sy vrou Marietjie agter en sy twee seuns Adriaan en Johan en hulle eg-genotes en ses kleinkinders; sowel as Marietjie se seuns Willie en Marius, hul eggenotes en drie kleinkinders.




