Die Pay It Forward Community Foundation (PIFCF) hou vanjaar hul sesde damesoggend op 30 Augustus 2025 by die Lighuis Sentrum op Despatch. Die gasspreker vir die geleentheid is Vasti Burger, dogter van die bekende prediker en skrywer, dr. Isak Burger.
Vasti is ‘n vrou met ‘n aangrypende getuienis wat harte aanraak. Dames kan hul dus regmaak vir ‘n oggend van inspirasie, geloof, hoop, genesing, en om ‘genade op genade’ te ontvang.
Sonja du Preez, visionêr van die organisasie, sê vroue ervaar daagliks geweldige druk en plaas ook baie druk op hulself, hetsy dit in hul persoonlike lewens of professionele loopbane is, en daarom is dit juis so belangrik dat hulle vanjaar ‘n boodskap van genade hoor.
“Ons lewe in ‘n wêreld waar ons samelewing op die punt gekom het waar ons so hard op onsself geraak het. En waar ons half genadeloos is teenoor onsself en daardeur vir onsself rêrig onhaalbare doelwitte stel, en dit laat ons baie dae soos mislukkings voel. God se genade is groter, want ons stel groter eise aan onsself as wat Hy aan ons stel,” sê Du Preez.
Die organisasie wil vanjaar ook werklik hul naam gestand doen deur terug te gee aan die dames wat die oggend bywoon.
“Nie net deur die bemoediging wat hulle ontvang daai dag nie maar deur die bederfpakkies wat ons vir elkeen gaan gee en dan ook die groot geskenke wat ons wil ‘pay it forward’ daai dag,” vertel Du Preez.
Lizé Saunders, medestigterslid van PIFCF, vertel dat die vorige jaar se damesoggend ‘n lewensveranderende ervaring was, met talle vroue wat genesing ontvang het. En daarom nooi sy alle dames hartlik uit om die jaar se damesoggend by te woon, want sy glo dat daar vir elke vrou ‘n persoonlike boodskap wag.
Verder glo sy dat die jaar ‘n nog groter geestelike impak gaan hê, as gevolg van formidabele gasspreker, Vasti Burger.
“Vasti is ongelooflik lief vir die Here. Daar is ‘n diepte omtrent haar wat jy nie kan beskryf nie. Sy het ‘n verhouding met die Here wat ek dink ‘n mens nie sommer in woorde kan sit nie. Jy voel dit net.”
Die damesoggend begin om 09:00. Kaartjies kos R150 per persoon (verversings ingesluit) en kan gekoop word by Klinimed Pharmacy in Newtonstraat, Newtonpark, Klinicare Despatch, Klinicare takke in Kariega en Perfect Image op Kariega.
PIFCF wil graag 20 dames bederf met ‘n gratis kaartjie na die damesoggend! Om in aanmerking te kom, stuur ‘n WhatsApp met jou naam, van en die woord GRATIS na 064 537 4228.
Vir meer inligting of om betrokke te raak by die PIFCF, kontak Sonja du Preez by 064 537 4228 of besoek www.pifcf.co.za.



