Marie du Preez (Ons Winkel Despatch eienaar) saam met vlnr Janelize Roux (Ons Winkel Area Bestuurder), Miempie van Wyk (Ons Winkel Uitenhage eienaar), Marlene Basson (Helpende Hand Streekorganiseerder), Madelane en Bennie Scholtz (Ons Winkels Walmer en Newtonpark eienaars). Photo: Verskaf


DAAR is tans 127 Ons Winkels landswyd waarvan Ons Winkel Despatch een is. Die Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkings winkels waar lede van die publiek tweedehandse goedere kan skenk en koop.

Hulle verwelkom alle bruikbare gebruikte goed, van meubels, kombuisware en linne tot klere, speelgoed en elektroniese toestelle. Die winkels verkoop dan weer die items van goeie gehalte teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Die organisasie verwys graag na die Ons Winkels as ’n “baken van hoop” in die gemeenskap omdat daar in 127 gemeenskappe oor die land heen nou ’n winkel is waar bekostigbare items van goeie gehalte gekoop kan word.

Elke winkel bied vir alle inkomstegroepe items teen ’n goeie prys. Of dit nou sporttoerusting of ’n warm baadjie of kombers vir die winter is, daar sal in enige van die winkels ’n winskopie wees.

Volgens Janelize Roux, Ons Winkel Area Bestuurder het die Ons Winkel Despatch op 14 September 2014 hul deure oop gemaak.

Die winkel eienaar, Marie du Preez, het hand opgesteek om die winkel te bedryf en het vir die afgelope tien jaar haar goed van haar taak gekwyt.

Die 127 Ons Winkels skep saam ongeveer 360 werksgeleenthede oor die land heen.

“’n Gedeelte van elke winkel se maandelikse omset gaan na Solidariteit Helpende Hand toe en hulle gebruik dit vir volhoubare projekte in die gemeenskap. Hulle skep byvoorbeeld stu-diefondse wat rentevrye studielenings bied aan behoeftige studente wat andersins nie tersiêre onderrig sou kon bekostig nie. Die Ons Winkel se wins help ook om die salarisse van 30 maat-skaplike werkers in al nege provinsies oor die land heen te betaal,” sê Roux.

Du Preez sê die vreemdste items wat sy al ooit ontvang het, was plastiek kisruikers wat sommer in ’n japtrap weer verkoop is.

Besoek gerus die Ons Winkel Despatch Facebook-blad vir die adres en kontakbesonderhede. Besoek ook die Ons Winkel webblad by www.onswinkel.co.za om al 127 Ons Winkels se kontakbesonderhede en adresse te sien.

– UITGEREIK DEUR SOLIDARITEIT HELPENDE HAND

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article