Lindie Strydom, bekende in die vermaaklikheidsbedryf, asook motiveringspreker, gaan die dames toespreek.

Foto: Verskaf

Op 31 Augustus bied Pay it Forward Community Festival ’n damesoggend aan by Lighuis Sentrum Despatch. Lindie Strydom, bekende in die vermaaklikheidsbedryf, asook motiveringspreker, vrou en ma, kom die dames bemoedig, met die tema “In die hand van die Pottebakker.”

Carindè van Schalkwyk, van die groep Onbeskaamd, kom die dames bedien met sang en musiek.

Die spoggeleentheid beloof om ’n geseënde, ontspanne atmosfeer te skep, vir dames wat voel of hulle op die draaibank van die lewe is.

Dames gaan bederf word met geskenke en daar is verskeie pryse wat weggegee word.

Anneli Gouws, organiseerder, het gesê, “Die opbrengs van die geleentheid sal aangewend word om mense by te staan, wat erg geraak is deur die verskriklike vloed wat Kariega op 1 Junie getref het, asook skole se voedingskemas. Die nood is nog baie hoog by slagoffers wat alles verloor het tydens die vloed.”

Pay it Forward (PIF) deel tot op hede komberse, kos en meubels uit aan die vloedslagoffers en voorsien ook kos aan leerders by verskeie skole, op ’n gereelde basis.

PIF het al verskeie groot initiatiewe aangepak, onder andere Projek “1000 worsrolletjies” vir straatbewoners en die “Weet Bix vir skoleprojek waarby verskeie skole Weet Bix ontvang het om aan hulle leerders ’n broodnodige ontbyt te voorsien.

“Dit is in die meeste gevalle die enigste ete wat hulle kry. Sommige leerders raak flou by die skool omdat hulle honger is. Daar was ook projek ‘1000 koppies sop’, wat met groot dankbaarheid ontvang was, deur leerders by verskeie skole, wat elk ’n koppie sop en ’n toebroodjie ontvang het. Een leerder het gesê sy is so dankbaar vir die sop en broodjies, wat saam huistoe gestuur is, want nou hoef haar ma en pa nie te steel om kos te koop nie. ’n Koppie sop en toebroodjie gaan veel verder as wat mens dink,”het Gouws verduidelik.

Sop en broodjies is ook aan ander organisasies en die brandweer uitgedeel.

Damesoggend word gehou op:

  • Datum: 31 Augustus
  • Tyd: 09:00
  • Plek: Despatch Lighuis Sentrum
  • Koste: R150 (verversings ingesluit)

Vir meer inligting oor hoe om kaartjies te verkry, gaan na Pay it Forward Community Festival op Facebook of besoek die webwerf www.pifcf.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article