Theresa Prince van Despatch, een van Suid-Afrika se drie internasionale netbalskeidsregters, is deur Netbal SA genooi om by die Telkom netbal-liga in te Bloemfontein blaas. Foto:MICHAEL BRADLEY

THERESA Prince van Despatch, een van Suid-Afrika se slegs drie internasionale netbalskeidsregters, is deur Netbal Suid-Afrika genooi om by die Telkom netbal-liga se bio- logies-veilige wedstryde in Bloemfontein se Seisa Ramabodu binnehuise-sportsentrum, te blaas.

Netbal Suid-Afrika (NSA) het toestemming by die minister van sport ontvang dat netbal-wedstryde kan voortgaan. Dit sal geskied onder streng voorgeskrewe COVID-19 voorkomingsmaatreëls en daarom word daar na “bio-bubble” wedstryde verwys, aangesien kragmetings in ’n biologies veilige omgewing geskied, sonder enige toeskouers.

“Dit sal nogal vreemd voel om te blaas waar daar geen toeskouers is nie. Die skare hou my altyd op my tone, want hulle is baie krities oor beslissings,” sê Theresa, bemarker sowel as netbalafrigter by Hoërskool Despatch.

“Maar ek dink nie dit sal ’n impak op die spelers hê as daar geen toeskouers is nie. Spelers van top spanne is absoluut gefokus op hul spel.”

Theresa, een van 17 netbalskeidsregters wat genooi is om by die Telkom netbal-liga se wedstryde in Bloemfontein te blaas, het haar internasionale gradering gedurende 2010 in Londen verwerf.

Intussen het sy wêreldwyd, by byna ’n 100 top internasionale wedstryde as skeidsregter opgetree.

Op ’n vraag oor hoe sy haar fiksheid op standard gehou het tydens die COVID-19 inperkings, antwoord sy: “Ek daag gereeld Hoërskool Despatch se 1ste netbalspangroep van 2021 uit in die gim. En met my twee seuns, wat aan hul ma karring om saam met hulle te oefen, is ek reg vir die Telkom netbal-liga.”

Alle COVID-19 voorkomingsmaatreëls geld by die liga, maar spelers hoef nie maskers te dra tydens ’n wedstryd nie.

“Ons skeidsregters en spelers mag darem tydens ’n wedstryd waarby ons betrokke is, ons maskers afhaal.

“Ons hande sowel as die netbalbal sal na elke kwart gesaniteer word. Baljoggies se hande sal ook gereeld gesaniteer word.”

Volgens Theresa moet al die skeidsregters, tegniese beamptes sowel as die spelers, voor die aanvang van die Telkom netbal-liga vir COVID-19 toetse gaan.

NSA president, Cecilia Molokwane, het in die media aangekondig dat daar vanjaar twee nuwe spanne aan die elite provinsiale- program van die Telkom netbal-liga gaan deelneem. Dit sal beteken dat 12 spanne gaan meeding, met die Tornado’s van die Wes- Kaap en Kingdom Queens van KwaZulu-Natal as die nuwelinge.

Suid-Afrika se o.21 netbalspan, ook bekend as die baba-Proteas, gaan ook aan die wedstryde deelneem as deel van hul voorbereiding vir die o.21 Jeug Netbal-wêreldbeker wat in 2021 in Fidji gehou word.

  • Die Telkom netbal-liga se wedstryde in Bloemfontein word van 14-27 Oktober gespeel en sal direk op Supersport uitgesaai word. Daar sal ses wedstryde per dag gespeel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article