
MISDAAD bring altyd die negatiewe uit, maar op Despatch het dit van die begin van Covid-19 grendelstaat af die positiewes na vore gebring: manne wat vrywilliglik hul gemeenskap help beveilig én die kreatiewe voorstel van ’n fabriekswerker wat werklikheid geword het.
Sentraal in die storie staan die Symara-tekstielfabriek, wat van dag een van die inperking duisende maskers moes vervaardig en hul personeel wat dus deurgaans moes bly werk het.
Jong misdadigers het dit as die ideale ge-leentheid benut om op dié Symara-personeel toe te slaan. Hulle het die vroue voorgelê, met messe gedreig, en hulle van hul selfone, handsakke en kruideniersware beroof. Maar dit het net ’n paar keer gebeur, toe sê die manne van Daleview en Khayamnandi: genoeg is genoeg, misdaad gaan nie langer geduld word nie.
Stap een in die positiewe rigting was dat van die manne saam met die Symara-vroue en ander voetgangers begin stap het om hulle veilig te hou, terwyl ander manne weer wakende oë by gevaarpunte soos onder brûe begin hou het – alles vrywilliglik.
Dié gemeenskapsgebaar wat nou as die Nagwag-manne bekendstaan, het Sheradine Koert, ’n werker by Symara, só geroer dat sy Andrea Rautenbach gevra het of die fabriek nie vir hierdie reddende engele van die gemeenskap spesiale gesigsmaskers kan maak nie.
“Dit was ’n briljante idee. Die manne beteken so baie vir ons personeel. En dit is noodsaaklik dat die Nagwag-manne die regte maskers moet dra, anders kan hulle nie doen wat hulle graag vir hulle gemeenskap wil doen nie,” sê Andrea.
Sy het haar pa, Gerrit Rautenbach, eienaar van Symara oor die borg van die Nagwag-maskers gevra. Hy het dadelik die groenlig gegee en maskers met ’n Nagwag-embleem is spesiaal vir hulle deur Vernon Jonker ontwerp.
“Die vroue by die fabriek was baie dankbaar oor dié beskerming vir die Nagwag-manne, want meeste van hulle word deur dié manne beskerm om veilig by die werk en weer by hulle huise te kom.
“Alhoewel daar groot bestellings vir maskers is en die spertye druk is, het die vroue ingespring en vinnig die Nagwag-maskers gemaak. Ons het dit aan die manne geskenk om van ons kant af dankie te sê vir wat hulle vir ons personeel en die gemeenskap beteken.”
Volgens Andrea voldoen die Symara lapmaskers aan die voorgeskrewe regulasies.
“Dit is ’n dubbellaag van 100% poliëster. Mense het die persepsie dat katoen gebruik moet word, maar dit is nie gelys as ‘n material vir maskers nie. Katoen word klam van asem en dit is ongesond.
“Poliëster se weefdigtheid, die feit dat dit vinnig droog word en die deurlaatbaarheid om met gemak asem te haal is perfek. So-ook is die materiaal se vermoë om mikroduppels te keer en om lug deur te laat baie goed.”
Symara vervaardig verskillende grootes maskers vir kinders, volwassenes en het selfs ’n ontwerp wat geskik is vir manne met baarde.
Die Nagwag bestaan uit ongeveer 50 manne wat paraat is om hulle gemeenskap veilig te hou. Hulle neem nie die reg in eie hande nie, maar werk nou saam met die plaaslike polisie en sekuriteitsmaatskappye.



