STOP … jislaaik, kyk. Dit lyk net soos in Afganistan!
Ons maak ons fietse staan teen die kokerbome. Kameras uit. Die sonsak-skakerings van oranje, geel, rooi en pienk teen Klein Pella se berge laat ’n mens in verwondering staar.
Dis die kleure waarna ons soek, maar net in blomvorm, want ons is op ’n Namakwaland fietstoer om van die sowat 3 500 blomspesies te sien.
Moeder Natuur het ’n paar truuks as dit kom by Namakwaland se blomme-tjies. Haar blomseisoen het ’n vensterperiode van net ses weke in Augustus en September. En in daardie tyd verskil die blomme dag na dag en jaar na jaar afhangende van die reën en sonskyn. Die blomme draai altyd hul ge-siggies na die son – daarom sien jy die blommetjies op hul mooiste wanneer jy jou reis uit die noorde aanpak. Daarby moet dit nie te warm of te koud wees nie, die blomme hou van ‘n gemiddelde temperatuur van 14 grade celsius.
Dis hóé jy reis
Fietsry op die goed-beplande 170km Escape Cycle Tours-roete oor vyf dae deur Namakwaland is die naaste aan deelword van die landskap. Jy ruik die veld, voel die son al suid saamry en sien meer: Gemsbokke, witkruisarende, die wereld se kleinste skilpad tussen die blommetjies, luiperdspoor en natuurlik die mooiste fyn blommetjies met snaakste name soos … sentkannetjies, doringviooltjies, noerap, pietsnot, kokerdosie en koggelmandervoet.
Die Namakwaland-reis het begin met sowat 1 000km vanuit Port Elizabeth tot in Oranjerus op Kanoneiland, waar die fietstrappery begin. Om tot daar te kom, het ons in ‘n reisbus par excellence gery: Volkswagen se nuwe Caravelle 2.0 TDI 4Motion.
Herrangskik binneruim soos dit jou pas
Dit is ’n voertuig wat al die uiterstes in ervaring bied. Nie net in rygemak nie, maar ook in die ruimte om jou heen. Jy kan selfs die binneruim herrangskik om by jou spesifieke reisbehoefte aan te pas!
In die Caravelle se agterruim kan jy die twee enkelsitplekke (wat reg in die rondte kan draai), piekniektafel, lang driesitplekbank en yskas wat alles op skuifbane pas, laat uitglip en weer inskuif soos jy die ruimte verkies. Vir die reis noord was die volgorde agter die twee voorsitplekke: eers die piekniektafel, dan lang driesitplekbank en heel agter genoeg spasie vir twee bergfietse, reisssakke en ’n koelboks vol padkos.
Met die wegtrek uit die Baai lê die son nog diep agter die Indiese oseaan. Dis koud, maar die Caravelle se luukse voorsitplekke met hul verwarming hou die sitvlakke warm.
Die padhouvermoe van die Caravelle is ‘n plesier en die veeldoelige bus glip deur die kronkelbergpas oor Olifants-kop soos ‘n dolfyn deur die branders. Met sy 132kW kragvermoë en sewe-spoed outomatiese DSG ratkas en binneruimluukshede, voel dit vir my ek is reg om tot in Timboektoe te reis.
Piekniek tussen niks en nêrens
Anderkant Britstown, duskant Prieska, waar ’n mens die versamelvoëlneste om telefoonpale begin kry, is dit tyd vir stop en padkos uithaal. Oop met die twee agterste deure – wat outomaties oopgly wanneer jy die skakelaar druk.
Daarna word die piekniektafel reggestel en gedek met padkos. Koue hoender, gekookte eier (ja, die deure was mos oop), nartjies en koffie … die lekkerste piekniek tussen niks en nêrens.
Weer op die ooppad, ry ons vir honderde kilometers verby verskroeide veld waarop die son genadeloos bly neerbrand. Die binneruim se blindings is ideaal om die 360 grade uitsig oor dié felheid te verskans.
Geen reistamheid in dié bus
Tien ure se ry van ons wegtrek uit die Baai, hou ons op Kanoneiland anderkant Upington stil – sónder om reistam te voel. As ’n mens só ver en deur só ’n harde landskap reis en jy nié reisflou by jou eindbestemming opdaag nie, moet jou ryding gekomplimenteer word. Die Caravelle se rygemak is só besonders dat die lang reispad verslawend kan raak.
Die Caravalle se werkverrigting, ruimtegerief en absolute gewilligheid met krag en spoed maak die langpad ervaring net soveel meer besonders. Dit is is ook die enigste voertuig in sy klas wat beskik oor 4 Motion alle wielaandrywing met sewe-spoed DSG dubbelkoppelaar outomatiese transmissie – wat maak dat jy in gerief oor ruwer terrein kan ry.
SPESIFIKASIES:
Model: VW Caravelle 2.0 TDI 4 Motion
Kleur: Acapulco Blou
Prys: R1 020 100
Wringkrag: 400Nm@1500-2000rpm
Topspoed: R188km/h
Brandstofverbruik: 8.8 liter/100km (Op my reis was dit 9.2F/100km)
Brandstoftenk: 80 liter
Diensplan: 5 jaar/60 000km




