Tian de Klerk.

Foto: Verskaf

Die president van die Despatch-rugbyklub, Mackay McDonald, is vasbeslote om die klub weer ’n groot krag in OP-rugby te maak.

“Ons het planne op die tafel en werk beslis in dié rigting,” sê hy.

Despatch was in die Danie Gerber-era een van die sterkste klubs in Suid-Afrika, maar die afgelope paar jaar het die spel begin stoom verloor.

“Ja, ons het deesdae minder spanne en jy kan ook op wedstryddae sien die toeskouergetalle is minder.

“Ons het tans net ’n o.21-span, ’n tweede, ’n eerste reserwe- en eerste span.

“Uiteraard wil ons na die gloriejare terugkeer.

“Daar lê harde werk voor, maar ons is oorgehaal vir die uitdaging.

“Spanne wat teen Despatch speel moet weet ’n klipharde wedstryd lê voor.”

McDonald sê Despatch speel tans in die groot Uitdaag-kompetisie se B-groep. Die mikpunt is om so gou as moontlik weer in die A-groep te speel.

Despatch het verlede jaar die halfeindronde teen Progress in Kariega met 0-3 verloor.

Gevra of Despatch nog nie weer ’n nuwe Danie Gerber gekweek het nie, sê McDonald: “Ek hoop so. Ons is besig daarmee.

“Ons het ’n jong senter, Tian de Klerk, wat groot belofte toon.

“Hy is nes Danie gebou en hardloop ook nes Danie. Ons sien uit na sy ontwikkeling vorentoe.”

De Klerk is soos legendes Gerber en Rassie Erasmus, ’n oud-leerling van die Hoërskool Despatch.

Hy gee tans onderwys by die laerskool Susannah Fourie.

De Klerk het as o.20- en o.21-speler vir die OP uitgeblink en verlede jaar die eerste keer as senior uitgedraf.

Hy word vanjaar 23.

Met Despatch se reëlings in volle gang vir hul 80ste verjaardag in Augustus, sê die oud-Despatch- en OP-agtsteman Harold Karele uit Le Bourg in Frankryk waar hy en sy gesin al 24 jaar woon. Sy hart brand om die verjaardagvieringe by te woon.

“My tyd by Despatch in 1994 en 1995 was die beste jare van my lewe.

“Dit was ‘n ongelooflike en onvergeetlike tyd vir my.

“Ek het van die Kaap af gekom, maar is onmiddelik verwelkom. Ek is daar soos ’n kind van Despatch behandel.

“Die rugby by Despatch was ook baie harder as die klubrugby waaraan ek in die Kaap gewoond was.

“Ja, ek sal beslis op Despatch kan aftree. Dié plek lê my baie na aan die hart.

“Daar het ek ook die beste van die bestes ontmoet – legendes soos Adri Geldenhuys, Elandré van der Berg, Nico Meyer, Willie Meyer, Dawie Human, Basil de Coning, Frans Erasmus Riaan Potgieter en talle anderontmoet.

“As ek die verjaardagvieringe kon bywoon so ons so baie staaltjies kon gedeel het,” sê Karele.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article