Dit is nou maar wors . . . Suid-Afrikaners se skerp humorsin is die beste medisyne om vir ‘n oomblik van die sorge in hierdie deurmekaar land te vergeet. Van pandemie-inperkings, beurtkrag, politici, brandstofpryse tot Springbok-nederlae lewer skreeusnaakse grappe op.
In Kariega het Danie Scholtz, oud-skoolhoof, baie van dié grappe versamel en in boekvorm, Lag ‘n Slag, laat verskyn. Hy het onlangs ‘n opgedateerde uitgawe van diè boek uitgereik. Dit bevat 2 013 grappe wat geskik is om omtrent enige geleentheid of geselligheid op te kikker. Saam met dié grappe het hy nog ‘n boek, Die Manewales van Tiger en die Knorhane, geskryf.
“My eerste Lag ‘n Slag is in 2010 uitgegee met 767 grappe. Die opgedateerde uitgawe het baie meer grappe van toepassing vir ‘n verskeidenheid geleenthede,” sê Danie.
Hy sê die idee om grappe oor dekades te versamel en in boekvorm saam te vat, het ontstaan omdat hy in die verlede dikwels as seremoniemeester by onderwysfunksies, allerlei gesellighede en troues opgetree het. Daarom het hy agter in die boek ‘n alfabetiese onderwerplys van die grappe, met ‘n verwysing na die bladsynommer, geplaas sodat die leser vinnig ‘n grap of twee vir sy geleentheid kan naslaan.
Die Manewales van Tiger en die Knorhane is ook propvol humor. Die boek bevat kort stories oor Scholtz en sy broers se kattekwaad, manewales, en poetsbakkery in hul jeugjare toe hulle in die woonbuurt Swartkops langs die Swartkopsrivier grootgeword het. Die boek ook humoristiese gebeure later jare in die skrywer se lewe.
“Alles in hierdie boek, elke liewe storie het regtig gebeur. As tieners het ons lewe om visvang en kattekwaad gedraai. Maar ons was ordentlik stout en het nie mense se goed verniel nie,” sê Scholtz, wat Tiger, die leier van dié visvangbende genoem is en die res van die seuns het as Knorhane bekendgestaan.
Scholtz sê hy het vir jare met die stories oor sy jeug en studentetyd in sy kop geloop voordat hy besluit het dit is nou tyd om dit in boekvorm saam te vat.
“Lapa Uitgewers het my boek gekritiseer en gesê ek gebruik nie die taal wat die jongmense vandag praat nie. My magtig, my stories is soos ons in daardie tyd gepraat het, ek kan mos nie die stories vermoderniseer nie.”
Scholtz sê kinders vanaf 12 jaar sowel as volwassenes sal Die Manewales van Tiger en die Knorhane geniet.
Hy het ook voorheen met ‘n storie oor sy pa, “Skiet hom op die perd se verkeerde goed” wat hy vir ‘n Huisgenoot-kompetisie ingeskryf het, ‘n week se verblyf en etes by die Augrabies-watervalle gewen.
Scholtz het al sewe boeke geskryf.
“Daar is nog twee boeke wat ek wil skryf voor ek die emmer skop. Altwee is gebaseer op tragiese gebeure wat onderskeidelik op Mosselbaai en Vosburg afgespeel het.”
- Beide Die Manewales van Tiger en die Knorhane sowel as Lag ‘n Slag is aanlyn beskikbaar by Print On Demand. Vir meer inligting bel Danie Scholtz by 082 377 9726.





