“Verkeerde plek verkeerde tyd.
Daai’s hoe die lewe lyk.
Hartlose mense.
Jou begrafnis word gecelebrate.
Deesdae moet jy niemand underestimate.
Want jy kan sat net deur een mistake …”
Gaan loop of ry ‘n bietjie rond in Tiryville (Lapland), so ietwat meer as 7km van Kariega-middedorp en êrens sal jy die rap song van “Plek en Tyd” hoor opklink, want dit is ware woorde vir baie inwoners, blykbaar selfs vir die bendelede.
Die skepper van “Plek en Tyd” sê hy weet waaroor hy rap (kletsrym), want voordat musiek in sy lewe gekom het, was hy self op dwaalpaaie, donker strate, het hy sy ma se hart gebreek en later sélf deur baie moeilike tye gegaan.
“Dit het my lank gevat om op die regte pad te kom,” vertel Yaseen Jasand Mohammed (27) wie se kunstenaarsnaam Sasso Vlet is.
“Ek het besef ek kan nie my lewe weggooi in die straat nie. Ek het ’n talent. Ek moet kies en het gekies om vir ander te wees wat ek nie gehad het nie, ‘n rolmodel. Ek weet waaroor dit in die straat en lewe gaan.”
“Plek en Tyd” is op 18 Desember uitgereik en binne ‘n week het meer as ‘n miljoen mense op sosiale media daarna geluister. Dit gaan oor hoe jongmense en kinders daagliks hulle lewens verloor en “verloor” deur op die verkeerde plek op die verkeerde tyd te wees.
“Ek wil mense, veral jonges, inspireer met my boodskappe. Ek wil lewens red. Ek weet hoe die kinders na my opkyk en ek wil deur my storie te vertel hulle motiveer om beter keuses in die lewe te maak,” sê Yaseen, oftewel die rapper Sasso Vlet.
“Vlet (Dala Flet) is ‘n straatwoord wat beteken moenie twyfel nie, doen dit met ‘n positiewe mindset. Sasso is my bynaam.”
Die terugvoering oor “Plek en Tyd” maak hom baie opgewonde, maar hy is hartseer oor wat daar buite aangaan.
Pyn van bendegeweld
“Baie van my vriende en mense hier in ons gemeenskap is dood weens bendegeweld. Ek het gevoel dit is tyd vir my om my opinie en my pyn hieroor deur my rap songs oor te dra.”
“Wat vir my baie interessant is, is dat selfs van die gangsters na my musiek luister. Dit het my hart gesteel toe ek dit hoor, want in die rap song trap ek op hulle tone.
“Mense in die straat, jonk en oud, kom na my toe en sê dankie vir wat my song vir hulle beteken. ‘Plek en Tyd’ het gemaak dat ek in mense se harte geklim het. Die mense glo in my, hulle sien hoe rap my lewe verander het.”
Sasso Vlet het juis “Plek en Tyd” geskep terwyl hy nog in die proses was om weer op sy voete te kom. Nadat hy musiek bo ‘n deurmekaar lewe gekies het, het ‘n rolmodel in sy lewe gekom – niemand anders nie as die supergewilde rapper Early B.
“Ek lewe musiek. Musiek het my gered. Al wat ek wil doen, is om te rap. Ek skryf my eie songs. Daar is altyd woorde in my kop wat gerap wil word.”
Sasso Vlet het twee doelwitte wat hy met sy lewe as rap-kunstenaar wil bereik.
“Ek hoop om dit groot te maak in die industrie, sodat ek meer mense op die regte plek en regte tyd kan inspireer. En ek wil deur my musiek die lewe van my moeder (Jasmine Mohammed) en my familie beter maak. Hulle het nou genoeg swaargekry. Is hoog tyd vir beter dae.”
Sasso te sien in stadsaal
Sasso Vlet en sy vervaardiger Jamaine Cupp, is tans besig met hulle derde mix tape wat op sy verjaardag, 31 Maart, om 19:00 tydens ‘n Sasso Vlet-optrede in die Uitenhage-stadsaal uitgereik gaan word. Vir kaartjies (R50) of meer inligting bel 081 242 6705.
Volg Sasso Vlet op sosiale media platforms soos Facebook en Instagram.
Van sy rap songs is ook op YouTube.





