TWEE hoofredes vir die stigting van Uitenhage se Mula-herwinningsprojek was om te help sorg dat weerlose kinders benodigdhede vir hulself kon ‘koop’ en dat plastiek, papier en karton uit woongebiede verwyder word.

Die Mula-herwinningsprojek het tot en met die begin van die inperkingstydperk, altesaam 137 147 kg plastiek en 39 363 kg karton uit gemeenskappe verwyder. Vandaliste het egter die Allanridge-gemeenskapsentrum só verniel dat die projek nie meer daar aangebied kon word nie. Foto:HEILIE COMBRINCK

Die projek was goed op dreef met honderde kinders wat een maal per week plastiek, karton en papier ingegee het om Mula’s te verdien waarmee hulle enigiets van suiker tot toiletpapier, pasta en skryfbehoeftes kon ‘koop.’ Maar toe kom COVID-19 en skielik is die herwinningsgedeelte van die Mula-projek gestaak omdat die weeklikse bymekaarkom van honderde kinders as n superverspreider van die gevreesde virus beskou is weens fisieke afstande wat nie gehou word nie en maskers wat nie gedra word nie.

137 147kg plastiek verwyder

Die Mulaprojek het tot en met die begin van die inperkingstydperk, altesaam 137 147 kg plastiek en 39 363 kg karton uit die gemeenskappe verwyder.

Nog ’n groot terugslag was die vandaliste wat die Allanridge gemeenskapsentrum só verniel het dat dit nie meer geskik is vir publieke gebruik nie.

“Dit is om van te huil, “ sê Quinette Goosen van die Mula-projek, “maar gelukkig het die Dale Street Congregational Kerk toestemming gegee dat hul kerksaal, waar die Mula-projek aanvanklik begin het, weer gebruik kan word.

“Wanneer ons weer die herwinningsgedeelte sal doen, weet ek nie, maar ons sal nie gou weer op die normale wyse kan Mula nie – die aanstekingsgevaar van die virus is net te groot.”

Tog blyk dit dat baie mense weer met die herwinningsprogram wil begin, want dan het plastiek en karton geldwaarde. Dit is nie “net” vullis wat die wêreld vol lê nie.

Intussen deel die Mula-projek steeds kos uit, net soos dit gedoen is gedurende die volle tydsduur van die COVID-19 grendeltydperk.

“Die Mulaprojek maak nog steeds ten volle staat op donasies van die goedhartige publiek. Sonder hulle ondersteuning sal die Mulaprojek nie verligting kan help bring na die mense wat dit so nodig het nie,” sê Quinette.

Vir meer inligting oor die Mula-projek bel Quinette Goosen by 082 846 3327. – HEILIE COMBRINCK

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article