Rare, spoggerige, klassieke en kragtige motors, motorfietse, driewiele, en alles op wiele sal Saterdag by die Alles op Wiele Motorskou op Despatch te sien én hoor wees.
Dié motorskou word deur Concept Crew Motorklub ter viering van hul 10de bestaansjaar op Laerskool Frans Conradie se sportveld aangebied.
Pierre Janse van Rensburg, stigterslid en voorsitter van die motorklub sê in 2011, op pad terug van die George Motorskou wat hy vir sy vrou, Karin, gesê het dit is tyd om ‘n motorklub op Despatch te stig.
“So baie van ons het ‘n liefde vir ou motors, maar hier was nie ‘n platform om bymekaar te kom nie. Ons was 12 ouens wat die klub begin het. Oor die 10 jaar het die klub reeds akkumulatief 60 plus lede gehad en is ons tans 22 lede. Die pandemie het ons planne vir ‘n 10-jaar viering in die wiele gery, maar nou gaan ons dit behoorlik vier met die Alles op Wiele Motorskou,” sê Pierre.
“Ek het in my wildste drome nie gedink die plaaslike belangstelling om motors uit te stal sou so groot wees nie. Wat veral treffend is, is dat daar ongeveer 130 privaat uitstallers is wat nie deel van ‘n klub is nie.”
Basil Basson, sekretaris van Concept Crew Motorklub sê daar is tans 280 inskrywings vir die skou en dit sluit in motors, motorfietse en allerlei ander interessante rygoed op wiele.
“Daar was nog nie ‘n motorskou op Uitenhage of Despatch aangebied soos die een wat Saterdag gehou gaan word nie,” sê Basil.
‘n Verskeidenheid motorhandelaars en uitstallers met motor-verwante produkte, onderdele, sowel as gewone feesstalletjies met kosse, ‘n biertent, handwerkitems en ander snuisterye sal by die motorskou wees. Volgens Pierre is die motorskou ‘n ideale bemarkingsgeleentheid vir handelaars en verskaffers van produkte in die motorbedryf.
“Een van die trekpleisters is ‘n 2020 Audi S3 uit die Baai, wat in sy spesifieke klas huidig die vinnigste in Suid-Afrika is. Die storie doen die rondte dat hul poog om die motor teen die einde van die jaar die vinnigste in sy klas in die wêreld te maak,” sê Pierre.
“’n Ander unieke motor wat hier gaan wees is ‘n klassieke 1967 Ford Corsair 2.0-liter V4 GT, die enigste van sy soort in die land wat nog op die pad is. Daar gaan ook drie Alfa Romeo’s wees waarvan die een, ‘n bitter skaars Alfa GT Junior, so goed soos ‘n splinternuwe motor lyk.
“Wat ook die koppe gaan draai is ‘n uitsonderlike Beach Buggy wat tans in aanbou is. Die arbeid alleen op dié Beach Buggy is al meer as ‘n halfmiloen Rand, gereken teen n mominale bedrag per uur met die aantal ure reeds aan die bou spanteer.”
Gerrit de Jager van Kariega, die grootste Fiat Uno versamelaar en onderdele-verskaffer in die wêreld, sal ook ‘n paar van sy unieke Uno’s na die motorskou bring. So-ook sal Chris van Heerden van Kariega, wat bekend is vir sy groot verskeidentheid Volkswagens, ‘n paar van sy unieke motors en kombi’s uitstal.
Vanjaar se borge van die motorskou is Peter Benn Motors, PB Tyres, Corkwood Square Mall en LuisterFM as die hoof mediaborg. Die hekke maak Saterdag om 09:00 oop en die skou sluit om 15:00. Toegang is R30 (volwassenes), R20 (pensionaris) en R10 per kind. Vir meer inligting of om ‘n stalletjie te bespreek of jou motor te gaan uitstal, bel Pierre by 068 272 4177.





