Morné van der Berg by van sy medaljes en sertifikate vir landloop. foto:KAREN PIENAAR

MINDER as vier weke nadat ’n topatleet van die Hoërskool Brandwag se nek tydens ’n motorongeluk gebreek is, glimlag Morné van der Berg (15) van oor tot oor, want hy is tuis en besig om goed aan te sterk.

Hoewel Morné, ’n graad 9-leerling, se beweging en gevoel nie ná die motorongeluk aangetas was nie, het dokters bevind sy C5- en C6-nekwerwels is gebreek en die geringste verkeerde beweging kon hom permanent verlam gelaat het. Dokters by Livingstone-hospitaal het gate in sy skedel geboor om sy nek met penne en gewigte stil te hou.

Sonica van der Berg, Morné se ma, sê: “Dokter (Willem) Oosthuizen, die ortopeed wat Morné by Livingstone behandel het, het gesê hy móét eintlik ’n operasie ondergaan om sy werwels te herstel en verdere komplikasies te verhoed, maar dat dit nie by Livingstone gedoen kan word nie.”

Morné van der Berg nadat Relay hom by Netcare Cuyler-hospitaal afgelaai het. By hom is van links Diana Bosch en die Relay-span Shane Brazer, Sbusiso Ndima en Sulayman Luyt. Foto: VERSKAF

Sonder die operasie sou Morné vir ses weke doodstil moes lê. Dit sou sleg wees vir sy ge-sondheid en hy sou baie spiermassa verloor.

Dat Morné tans tuis aansterk, is te danke aan ’n spanpoging van die plaaslike gemeenskap, maar ook veral aan die goedhartigheid van ’n neurochirurg. Die neurochirurg het verlede week aangebied om Morné se operasie pro bono by Livingstone te doen.

Die Van der Bergs het dié nuus gekry toe die Brandwag-gemeenskap al hard aan die werk was om geld vir die operasie in te samel.

Tydens ’n lang operasie is ’n beentjie uit Morné se heup gebruik om sy werwels reg te maak.

Dr. Oosthuizen het Morné verlede Vrydag ontslaan sodat hy die naweek in die Netcare Cuyler-hospitaal op Uitenhage kon deurbring.

Een van die organiseerders van die fondsinsameling, Diana Bosch wat benewens ’n lid van Brandwag se beheerraad, ook ’n kliniese fasiliteerder by Netcare Cuyler-hospitaal is, het Vrydagmiddag vinnig aan die werk gespring om te reël dat die Relay mediese nooddiens Morné met ’n ambulans na Netcare Cuyler- hospitaal vervoer.

Hy het die naweek sy eerste fisioterapie ondergaan en is Maandagoggend ontslaan.

Bosch was so opgewonde daaroor dat Morné kon huis toe gaan dat sy daarop aangedring het om saam met hom by die hospitaal uit te stap.

Retha Landman, ’n personeellid van Brandwag wat ook die skool se landloop-organiseerder is, sê: “Dit gaan baie goed met Morné. Hy kan reeds op ’n oefenfiets trap en hy was verheug om met sy worshondjie, Champ, herenig te wees. Morné het vreeslik na sy hond verlang.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article