“Ons gemeenskappe het nodig om empower te word. Ons kan die wêreld nie verander nie, maar ons kan ’n verskil maak. En hoe maak jy ’n verskil? Een kind op ’n slag.”
Dit was die woorde van Genevieve Hendricks enkele dae voordat die deure van Miracle Kids 2 Stimulasie Sentrum vir Kinders met Gestremdhede op Despatch oopgemaak het.
Miracle Kids is in 2008 in Gqeberha gestig en voorsien stimulering en rehabilitasie vir kinders met gestremdhede totdat hulle geïntegreer kan word in ’n hoofstroom skool.
Aan die stuur van Miracle Kids 2 is Hendricks as die direkteur en Joey Deyzel as die sentrumbestuurder.
“Ek voel dat elke kind geregtig is om sy volle potensiaal te bereik,” sê Hendricks. “So, die kind begin hier en moet aan die einde van die dag by die skool uitkom.
“Tot dusver is daar meer as 90 kinders van Miracle Kids ten volle geïntegreer in skole.
“Wie nooit kon praat nie begin praat, wie nooit kon loop nie begin te loop.
“Geen geld in die wêreld kan opmaak vir wanneer jy ’n verlamde kind sien loop. Of ’n kind hoor praat na 12 jaar van stomheid. Dan sê jy net dankie Here.”
Hendricks het deur die jare verskeie navrae van die Despatch en Kariega area gekry om ’n sentrum oop te maak en toe die geleentheid kom het sy dit met beide hande aangegryp.
Sy en Deyzel stap al ’n lang pad saam, sedert die Getting to Know Cerebral Palsy Hambisela-program geskryf is. Hulle het saam opleiding aangebied as veldwerkers van die Serebraal Gestremde Vereniging Oos-Kaap.
Deyzel het later by die vereniging gebly en Hendricks het met Miracle Kids ’n nuwe hoofstuk begin.
“Toe Joey vir my sê Serebraal Gestremde Vereniging in Gqeberha se deure maak toe, toe sê ek, Joey, begin ’n tweede Miracle Kids,” vertel Hendricks.
Skaars twee weke later het hulle ’n plek gekry by Oosterland Jeugsentrum.
Hulle deure is oop vir alle tipes gestremdhede, insluitend kinders met serebrale gestremdhede, Down Sindroom en outisme.
Deyzel, wat reeds jare lank al werk met gestremde kinders by die Serebraal Gestremde Vereniging en Kaap Recife Skool, is baie opgewonde oor die sentrum.
“My passie vir die gestremdes lê my baie na aan die hart,” vertel sy. “Ek kan nie wag om te begin nie. Ons is nie meer jonk nie, maar die Here gee vir ons die passie en die krag.”
Miracle Kids 2 werk intensief saam met die departement van sosiale ontwikkeling en die departement van onderwys. Hulle het begin met 20 kinders, en het plek vir tot 60 in totaal by die sentrum, tussen die ouderdomme van een en vyftien.
“Wanneer jy met ’n gestremde kind werk, mag die kronologiese ouderdom van die kind twee of drie wees, of selfs 10, en dan is die kind se gedragsouderdom een.
“Die kronologiese ouderdom en die gedragsouderdom is nie dieselfde nie.
“So, ons kyk na die gedrags- ouderdom en neem kinders só in vanaf een jaar,” verduidelik Hendricks.
Ouers kry ook huiswerk
Hulle is van plan om voltydse opleiding in serebrale gestremdhede vir die ouers en lede van die gemeenskap by Miracle Kids 2 aan te bied.
“Wanneer ’n ouer met ’n gestremde kind hier aankom, is dit vir hulle bitter moeilik. Hulle weet nie altyd hoe om met die kind te werk nie. Dit is hoekom ons klasse wil aanbied, sodat ons die ouer van die begin af kan leer,” sê Deyzel.
“Ons vat die ouers onder ons vleuel, lei hulle op sodat hulle alles wat ons hier doen, ook by die huis doen. Die 50 plus 50 gaan vir die kind ’n groot verskil maak,” voeg Hendricks by.
“Ons wil graag hê Miracle Kids moet ’n baken van hoop in ons gemeenskappe word.”
Aan die einde van die kursus gaan dié wat volhard kan spog met ’n sertifikaat.
Miracle Kids 2 gaan elke jaar ’n gradeplegtigheid hou, vir die ouers met hulle sertifikate, asook vir die kinders om ’n graad te ontvang vir hulle vordering en prestasies.
Hendricks sê die sentrum is ’n droom van haar wat ’n werklikheid geword het.
Hulle gaan nou voortbou op die leuse: “Hope sees the invisible and it achieves the impossible”.
- Miracle Kids 2 Stimulasie Sentrum vir Kinders met Gestremdhede is oop Maandae tot Donderdae van 08:00 tot 15:00 en Vrydae van 08:00 tot 13:00 by 26 Bergstraat in Despatch. Vir meer inligting kontak Genevieve by 083 733 1194 of ghendricks25@gmail.com, of Joey by 082 876 4050 of joeyd.miraclekids2@gmail.com.




