Dano Swart werk hard tydens ’n terapiesessie saam met arbeidsterapeut Kirstin McLaggan by die Aurora-hospitaal. Foto:KAREN PIENAAR

DANO Swart (18) die eens kranige sportman van Brandwag is verlam na ’n ernstige nekbesering tydens OP rugbyproewe, maar sy skool, sowel as mense regoor die land, staan saam om hom te ondersteun.

Dano was vir 11 weke in Netcare Greenacres-hospitaal se intensiewe sorg-eenheid voordat hy verlede week na die Aurora-hospitaal oorgeplaas vir rehabilitasie. Hy kry nou fisio- en arbeidsterapie waartydens hy hard werk aan die beweging van sy arms.

Hy is verlam in sy ander ledemate en sal in die toekoms gespesialiseerde toerusting nodig hê om effektief te kan funksioneer.

Dano se ouers is positief en dankbaar vir elke bietjie vordering wat hy maak.

“Ons sal nooit ophou glo en bid nie,” sê Sanet, Dano se ma.

Sy vermoë om te sluk, het soveel verbeter dat hy die week sagte kos kon begin eet.

Volgens sy pa, Danie, is Dano nou 23 kg ligter as voor sy besering en sien hy daarna uit om weer te eet. Ook sy nekstut is die week verwyder.

Mini-gholfdag by Brandwag

Intussen word die Swart-gesin bemoedig deur die fondsinsamelings wat in die gemeenskap aan die gang is.

Brandwag het fluks bestanddele ingesamel en hou vanaand ’n wegneemete-deurry waarvoor bestellings vooraf geneem is.

Brandwag en die Uitenhage-krieketklub reël ook ’n mini-gholfdag wat op 31 Augustus op Brandwag se sportterrein aangebied word. Gholfspelers word uitgenooi om deel te neem en besighede is welkom om as borge betrokke te raak.

Uitblinker op vele gebiede

Dano is in matriek, hy is op die leerlingraad, het met die kolf gelei as kaptein van die eerste krieketspan en was die heelagter en onderkaptein van die eerste rugbyspan.

Die jaar het baie goed begin vir Dano. Sy krieketspan het 15 uit 17 wedstryde gewen en hy kon ’n honderdtal en ’n kolfgemiddelde van 50,1 agter sy naam skryf.

In April is hy by die Oakdale-rugbytoernooi as die agterspeler van die toernooi aangewys. Hy het ook 13 punte vir sy span aangeteken in Brandwag se FNB Classic Clash teen die Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar.

Vroeg in Mei is Dano tydens OP-rugbyproewe platgeduik en hy het nie weer opgestaan nie. Hy is na Netcare Greenacres-hospitaal gehaas en het dieselfde aand ’n noodoperasie ondergaan om skade aan sy nekwerwels te herstel. Sy onderlyf is steeds verlam en hy het net beperkte gebruik van sy arms.

Boodskappe wat sê, “Word gou gesond, Dano!” het van oraloor die wêreld ingestroom, maar Dano se herstel is ’n baie stadige proses.

  • Vir meer inligting en besprekings vir die Dano Mini-gholfdag bel Francois Anker by 084 502 1191 of ankerfrancois@gmail.com of André Bezuidenhout by 083 733 9282.

Besonderhede vir Dano se ondersteuningsfonds:

Dano Swart Ondersteuningsfonds NPC201925640508

Nedbank-takkode 198765

Tjekrekeningnommer: 1190525437

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article