Daar waar die Hanekamberge se skerp pieke met sononder teen die horison afgeëts word en die skemerstilte oor die Swartkopsrivier se suid-oewer neffens Despatch toesak, woon die kunstenaar Hilda Tait.
Sy put inspirasie uit die natuurskoon om haar en gebruik elemente hiervan in haar kuns. Van wolke, die maan in veranderende fases, tot plaas-huise en landerye langs die lang pad.
“Ek was klein, voor skool, toe kon my ma al sien dat ek in perspektief kan teken. Natuurlik op ‘n kinderlike manier. In my laerskooldae het ek ‘n vriendin gehad wat so mooi kon teken. Ek wou so graag ook so mooi teken en toe besluit ek om te oefen,” sê Hilda.
Verf vloei soos bloed deur haar are. En haar persoonlikheid is net so kleurvol soos die vele muurkuns, illustrasies vir kinderstories, verhoogdekor, en babakamers wat sy deur die jare geskep het.
“Kuns beteken vir my baie. Dit is ‘n lewenslyn deur gelukkige én hartseer tye. ‘n Sentrale deel van my wese. En dit gee my baie plesier om te sien hoe my kuns ander mense gelukkig maak.”
Volgens Hilda is kuns ‘n unieke medium waarmee brûe tussen mense gebou kan word. Daarom staan sy nie terug wanneer sy haar talent, kennis en ervaring met ander kan deel nie.
Hilda vertel dat sy na haar man se afsterwe gebid het vir inspirasie en leiding om haar talent vrugtevol te kan inspan.
“Ek het in my oprit gestap en toe sien ek twee stukke dwarslêers. Net daar besluit ek om erdebekers daarop te verf. Dié kunswerke is daardie selfde dag verkoop. Dit was die begin van my geverf en teken op plankies en ek doen dit nou nog.
“Die geldjie wat ek maak met my houtskilderye, spaar ek om Nieu-Seeland toe te gaan om by my kleinkinders te gaan kuier.”
Daar is nog ‘n groot passie in Hilda se lewe.
“Eintlik is my groot liefde dans! Twee keer ‘n week doen ek line dancing.”
Maar of Hilda nou dans of skilder, haar lewensritme word geïnspireer deur haar skeppende gees. En dit is hierdie selfde kreatiwiteit wat haar medemens inspireer.



