Eugene Damons van Kariega is ‘n mense-mens en ‘n digter met ‘n hart wat oorloop van nostalgie. Die kombinasie hiervan het gelei tot sy eerste digbundel, Gesproke Woord, wat op 14 April in die hart van sy grootword-dorp bekendgestel gaan word.
“Mense is my passie. Ek het ‘n liefde vir mense. My ander groot liefde is Afrikaans; Afrikaans is my taal, Afrikaans is wat ek skryf, Afrikaans is die beste manier hoe ek dinge kan beskryf,” sê Eugene, voltyds in diens van die Departement van Arbeid.
Eugene vertel dit is sy Afrikaanse onderwyser Ricardo Bacon, wat hom op 15-jarige ouderdom aan die wonderwêreld van poësie bekendgestel het.
“Dit het die passie in my aangewakker. Later jare het ek op aanvraag gedigte oor mense vir spesiale geleenthede soos verjaardae en begrafnisse geskryf. Mense waardeer dit. My gedigte wat ek oor mense geskryf het, hang orals geraam in ons gemeenskap.”
Blikkiesdorp
Hy lees graag sy gedigte voor. ’n Geleentheid wat hom altyd bybly is toe hy op 16 Junie 2016 in Gelvandale voor sowat 5 000 mense een van sy gedigte getiteld “1976” voorgelees het.
“Ek geniet onse land. Ek geniet veral ons Kleurlingmense, want daar is iets unieks aan ons. Ons het ‘n unieke manier om dinge te sê.”
Eugene het in die Apartheidsjare in Blikkiesdorp grootgeword en ‘n paar van sy gedigte handel oor dié era. “Dit was donker jare met geen elektrisiteit of lopende water nie. Maar in daardie donker het ons mekaar se stemme geken, ons het geweet wie praat. Daar was nie misdaad soos nou nie, mense het respek vir mekaar gehad.”
Eugene sê hy leef in die oomblik, is baie oplettend en hou daarvan om te kyk na mense se manier van praat, hoe hulle grappe maak, wat hulle sê en hoe hulle kommunikeer. “Dit is ‘n gawe wat ek ontvang het om mense te observe en, gebore uit daardie inspirasie, skryf ek my gedigte.”
Krismisklere
‘n Enkele gunsteling-gedig is daar nie; al Eugene se gedigte lê hom na aan die hart. Tog is “Krismisklere” ‘n gedig wat sy emosies diep raak. “Dit gaan nie daaroor dat jy bevoorreg was om Krismisklere te kon kry nie, want armoede was groot in daardie dae. Maar dit gaan oor die kinders se excitement in hul oë, om met trots jou Krismisklere te kon aantrek. Net vir daai dag vergeet jy van armoede en dat daar môre niks op die tafel te ete gaan wees nie.”
Gesproke Woord bevat 92 van Eugene se gedigte wat in sy eie unieke styl, uit sy hart, geskryf is. Op die voorblad is titels van sy gedigte wat eie is aan Kariega (Uitenhage) soos Blikkiesdorp, Gardens vs Progress, Kleurlingskind, Sê wat jy wil sê, Nasiebou.
“Gesproke Woord is ‘n kulminasie van wie ek is,” sê Eugene.
Bekendstelling
Sy digkuns is uniek en bied ‘n historiese oorsig in die vorm van ‘n verdigting van belewinge, stories, en mense in sy gemeenskap, Blikkiesdorp, en op ook Steytlerville waar sy grootouers gebly het.
Eugene se Gesproke Woord digbundel word uitgegee deur Poetry Publications en is op Amazon beskikbaar.
Die amptelike bekendstelling van Gesproke Woord is op 14 April om 19:00 in die Kariega Stadsaal. Eugene gaan van sy gedigte voorlees en daar sal uitstallings wees wat van sy gedigtitels versimboliseer. Kaartjies is R200 (insluitende ‘n kopie van Gesproke Woord) en sal by die deur beskikbaar wees. Vir meer inligting of om plek te bespreek bel Leigh Damons by 079 517 5259.




