HORINGS en Hoewe gaan nie oor koeitjies en kalfies nie, maar ’n handelsmerk vir sakpas klere en toebehore vir diegene wat wil bos gaan in die buitelug en op die jagveld.
Die entrepreneursgeesdrif agter dié handelsmerk kom van ’n onderwyserspaar met ’n liefde vir die veld en Afrikaanse sêgoed waarvan die trefkrag in geen ander taal die hart só raak nie.
“Ek is plaas- en jagmal en hou daarvan om kwaliteit klere aan te trek wat lekker aan my lyf sit. Die gesukkel om ’n goeie T-hemp of pet te kry waarvan ek hou, en my vrou (Mirandi) se kreatiwiteit, was van die dryfkragte om met ons eie klerereeks en toebehore vir die buitelug en jagveld te begin,” sê Ruan “Tallies” Taljaardt.
Mirandi beaam dit. “Kyk, gee my net ’n halwe kans om skeppend te wees en my kop hol weg met idees.
“Daardie koedoehorings wat daar op die kas staan, het my met die idee vir die naam laat opkom. Toe ek dit sien, toe sê ek ‘horings,’ want dit moes iets wees wat met die jagveld te doen het. En toe kom ‘hoewe’ want dit pas net so mooi bymekaar.”
Horings en Hoewe het aanvanklik met die vervaardiging van lekker-kop-pas-pette vir mans en vroue en geweersakke begin. Daarna is hoodies by die reeks ingesluit. Toe kom handskoene, leergordels, leerpatronesakke (vir verskillende kalibers) en treffer-t-hemde vir volwassenes sowel as kinders. Al dié klere is in aardse kleure.
Dit was veral in die inperkingstyd dat hul produkte aanlyn ’n goeie hupstoot gekry het.
“Mense het mos by die huis gesit en hunker na vryheid deur op hul rekenaars te soek en kyk na goed waarvan hulle hou. Ons het in een aand 26 geweersakke verkoop. So gou as wat die poskantore weer oopgemaak het, het ons die bestellings na plekke regoor die land gestuur,” sê Ruan.
Wie voel dan nou nie lekker met eg- Afrikaanse sêgoed op jou bors nie – woorde soos: Vul jou siel, Veldverslaafde, Khaki Knaap, Grondpadliefhebber en vir die kleinspan is daar T-hemde met woorde soos Klein Waaghals, Wille Ding, Vir Altyd Wild en Karoolyfie.
Ruan sê Horings en Hoewe se produkte, wat aanlyn op hul Facebookblad besigtig kan word, is waarde vir geld, want dit bied bekostigbare kwaliteit.
Wat is volgende? “Met jag, die veld en braai as die inspirasie vir ons klere en toebehore, dink ons speserye is dalk ’n lekker toevoeging tot ons reeks. Dit sal perfek inpas by die mark wat ons klere koop” sê Mirandi.
- Vir meer inligting oor Horings en Hoewe bel Mirandi by 083 652 6202.


