So lyk die foto’s wat die loodsprogram gebruik om inligting oor die bome in stedelike gebiede in te samel. Foto: Verskaf

BOME verskaf nie net suurstof nie, maar dit bied ook beskerming teen geraasbesoedeling en erosie.

Daarom is dit belangrik om te weet waar nog bome in stedelike gebiede geplant moet word.

Zahid Badroodien, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir

gemeenskapsdienste en gesondheid, het in ’n verklaring gesê die munisipaliteit het reeds in Junie 2019 begin met ’n program waarmee ’n inventaris van alle bome in die stedelike gebiede saamgestel word. Bome wat ingesluit word, is minstens 2,75 m hoog.

Hierdie diens vorm deel van die munisipaliteit se boombestuur- beleid waarvolgens bome deur behoorlike boomkwekery-tegnieke en bestuursbeginsels versorg word.

Luidens die verklaring gebruik die departement geografiese inligtingstelsels en lugfoto’s met infrarooi en driedimensionele funksies om die inligting in te samel.

Badroodien het gesê die mikpunt is om die Kaapse munisipale gebied op dieselfde standaard te kry as wat die Verenigde Nasies se voedsel-en-landou-organisasie as ’n stedelike woud beskryf.

Volgens die VN bestempel hy ’n stedelike woud as ’n gebied met meer as 10%-boombedekking. Kaapstad staan tans op 7%.

Luidens die verklaring is dit ’n belangrike deel van die bestuur van stedelike woude om ’n inventaris te maak van die verskillende soorte bome en waar hulle geplant is.

Daarom het die departement verlede jaar die projek begin om al die data in te samel.

Bome kan geklassifiseer word volgens hoogte, waar hulle voorkom en hoe blaarryk dit is. Die inligting word gehou vir toekomstige vergelykings om vas te stel of die gebiede verbeter of verswak het.

“Dit is ’n opwindende projek en ons is vol vertroue dat die inligting wat ingesamel word, die departement sal help om die munisipaliteit se bome en plante te bestuur en om bome te plant in gebiede waar dit baie nodig is. Die waarde van bome kan nie oorbeklemtoon word nie,” het Badroodien gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article