Die Hoërskool Brandwag het verlede week op die tradisionele wyse afskeid geneem van die matriekklas van 2023. Vrydag was die matrieks se laaste skooldag voor die eindeksamen.
By Brandwag het die matrieks volgens die tradisie Donderdag al die kans gekry om hulle handafdrukke te laat op ’n muur by die skool se parkeerterrein. Elke matrikulant skryf dan sy of haar naam by die handafdruk. Die laaste saalbyeenkoms het Vrydag plaasgevind. Tydens die geleentheid het die hoofleiers van 2023, Keanu Bruintjies en Leanne van Tonder, die groot wit kers voor in die saal aangesteek.
Aan die begin van elke skooljaar oorhandig skoolhoof Steven Zietsman ’n kers aan elke nuwe graad 8-leerling. Teen die einde van die jaargroep se hoërskoolloopbaan brand daar een groot, breë kers voor in die saal as simbool van die eenheid wat die jaargroep gevorm het. Die kerse simboliseer die lig wat opvoeding op die lewenspad is.
Daarna het die skoolhoof, graadhoof, Ilze Maritz en die hoofseun, Bruintjies, almal geleentheid gehad om hulle afskeidsboodskappe te lewer. Na afloop van die saalbyeenkoms stap die matrieks deur ’n erewag wat op die vierkant gevorm word deur die ander leerlinge.
Die matriekouers, wat ook die saalbyeenkoms bywoon, vorm ’n erewag op die matriekstoep en laastens groet die matrieks hulle getroue onderwysers wat tussen die hoofingang en die hoofhek op hulle wag. Teen dié tyd vloei die trane sommer vryelik, by die matrikulante en die onderwysers.





