Mathys Roets tree eersdaags in Kariega op om te help om geld vir Helpende Hand se Uitenhage Gemeenskapstudiefonds (GSF) in te samel.
Volgens Marlene Basson, Solidariteit Helpende Hand se streeksorganiseerder, bied die GSF rentevrye studielenings aan verdienstelike en behoeftige studente wat graag hul studiedrome wil bewaarheid. Die Uitenhage-GSF word deur Helpende Hand se Studietrust bestuur en het oor die afgelope vyf jaar reeds sewe plaaslike studente met studielenings ter waarde van R305 800 gehelp.
“Helpende Hand glo daarin om deur opvoeding, opleiding en ontwikkeling die gemeenskap te bevorder. Studies is nodig om mense te bemagtig en is die belangrikste sleutel tot volhoubaarheid en selfstandig-heid. Fondse mag nooit in die pad van ’n voornemende student staan om te studeer nie. Die konsert word deur ons Uitenhage-tak aangebied om fondse vir die GSF aan te vul sodat ons meer studente kan bystaan,” sê Basson.
Roets tree Saterdag, 19 Augustus om 18:30 by die Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar op. Kaartjies kos R180 as ’n mens vooraf bespreek of R200 by die deur.
Koop jou kaartjies, of maak ’n skenking aan die SGF, by Marius by 076 153 0295.
-UITGEREIK DEUR SOLIDARITEIT HELPENDE HAND




