Hou die datum van 23 November oop vir die Ma-en-Dogter fondsinsameling wat deur die Miracle Kids Stimulasie Sentrum in Bethelsdorp en Miracle Kids 2 in Despatch gehou word.
Miracle Kids is in 2008 deur Genevieve Hendricks in Gqeberha gestig en voorsien stimulering en rehabilitasie vir kinders met gestremdhede totdat hulle geïntegreer kan word in ’n hoofstroom skool.
Na groot aanvraag vir ’n soortgelyke sentrum in die Kariega en Despatch omgewing het Miracle Kids 2 in 2022 sy deur oopgemaak. Dié is ’n satellietsentrum wat onder die hooftak in Gqeberha se vaandel val.
Aan die stuur van Miracle Kids 2 is Hendricks as die sentrumbestuurder en Joey Deyzel as die skoolhoof.
“Ek voel dat elke kind geregtig is om sy volle potensiaal te bereik,” het Hendricks in 2022 aan UD Express gesê. “Geen geld in die wêreld kan opmaak vir wanneer jy ’n verlamde kind sien loop. Of ’n kind hoor praat na 12 jaar van stomheid. Dan sê jy net dankie Here.”
Sy en Deyzel het ’n lang pad saam gestap, sedert die Getting to Know Cerebral Palsy Hambisela-program geskryf is.
Hulle het saam opleiding aangebied as veldwerkers van die Serebraal Gestremde Vereniging Oos-Kaap. Deyzel het by die vereniging gebly en Hendricks het met Miracle Kids ’n nuwe hoofstuk begin.
Toe die vereniging se deure toemaak, vra Hendricks vir Deyzel om Miracle Kids 2 te begin. En die res, soos hulle sê, is geskiedenis.
Hulle deure is oop vir alle tipes gestremdhede, insluitend kinders met serebrale gestremdhede, Down Sindroom en outisme.
“In die twee jaar wat ons op Despatch is, het ons al sewe kinders uitgeplaas na hoofstroom skole,” het Deyzel vertel.
As ’n nie-winsgewende organisasie probeer hulle om elke jaar ’n groot fondsinsameling te hou wat die gemeenskap ook betrek.
Hierdie jaar het hulle besluit op ’n ma-en-dogter oggend. Hulle het op die tema ‘HOPE’ besluit vir die boodskap ‘Hold On, Pain Ends’.
“Tussen die werk en skool en net met die besigheid van die lewe, leef mense, selfs ouers en kinders onder dieselfde dak, verby mekaar. Ons wil hê dat ma en dogter in die kort tydjie wat hulle by die funksie is, net weer ’n band met mekaar sal bou en onthou dat kommunikasie en ondersteuning baie belangrik is,” het Deyzel gesê.
Die ma-en-dogter fondsinsameling beloof om ’n onvergeetlike oggend by die NG Kerk Suid op Despatch te wees.
Daar sal gassprekers, musiekkunstenaars, ’n modelleringsvertoning en nog meer op die program wees.
Kaartjies is R100 per volwassene en R50 vir skoliere, beskikbaar by Miracle Kids 2 by Bergstraat 26, Despatch. Alle ma-en-dogter pare van alle ouderdomme is welkom.
Vir meer inligting, kontak Miracle Kids by 082 876 4050.
- 2025 Registrasie oop: Vir meer inligting kontak Genevieve by 083 733 1194 of Joey by 082 876 4050. Miracle Kids 2 is oop Maandae tot Donderdae van 08:00 tot 15:00 en Vrydae van 08:00 tot 13:00 by 26 Bergstraat op Despatch.





