Pieter Greeff en sy pragtige houtwerkartikels is ’n bekende gesig op Despatch.
Saterdae verkoop hy sy meubelstukke, speelgoed, trollies, kiste, tuinbruggies, dekoratiewe harte en talle ander artikels voor die rugbyveld langs die besige Bothastraat.
Houtwerk was nog altyd in Pieter se bloed. Hy is ’n sprekende voorbeeld van die aanleg vir praktiese handwerk wat altyd teenwoordig was in sy familie.
Hoewel hy geen formele opleiding in hierdie vakgebied het nie, het hy van kleins af vele praktiese vaardighede by sy pa geleer.
“Ek het eers net as ’n stokperdjie houtwerk begin doen maar het na- derhand saans na werk daarmee aangegaan.”
Pieter het vir 32 jaar by die spoorweë as klerk gewerk. In 1997 het hy egter voltyds begin om van sy huis af houtwerk te doen.
Jy sal hom meestal in sy garage teëkom waar hy timmer, skaaf, verf en skep. Altyd aan die gang tussen werksbank en draaibank, skuurpapier, beitels, sae, skawe en talle ander stukke gereedskap.
In sy werksplek, omring deur stukke afgewerkte en onafgewerkte hout in verskillende skakerings en teksture, is Pieter op sy gelukkigste.
“Mense vra my dikwels om spesifieke items vir hulle te maak. Soms wys hulle vir my ’n prentjie van wat dit wat hulle wil hê.
“Ek gebruik ook my eie idees om verskillende dinge te skep. Die trollies en dekoratiewe houtharte, in verskillende groottes, is baie gewild.
Benewens houtwerk staan Pieter se hande ook altyd reg vir ander vaardighede.
Hy geniet dit om loodgietery te beoefen en om aan elektriese toestelle, soos wasmasjiene, tuimeldroërs en stofsuiers. te werk.
Tog is dit houtwerk wat Pieter die naaste aan die hart lê.
Hy geniet die transformatiewe, kreatiewe proses en die suksesvolle eindprodukte wat onder sy hande te voorskyn kom.
Ook die sensoriese kwaliteit van hout as medium is vir hom iets besonders. “Houtreuke is tog so heerlik!”
As ’n toegewyde individu wat met vaste oortuigings leef, is sy werk vir hom ’n beginselsaak.
“Vir elke artikel wat ek maak, gee ek ’n tiende vir my kerk. Dis my verbond met Jesus. Hy sit elke dag kos op my tafel.”
En na soveel jare op Despatch, bly die dorp vir hom ’n spesiale plek. “Vroeër jare was vervoer werk toe maklik vanaf Despatch. Dit was die hoofrede waarom ek hier ’n huis gekoop het.
“In daardie jare kon ’n mens mos met die trein, bus of motor werk toe ry. Nou loop die treine nie meer nie.
“ Maar vandag is dit net só lekker om in hierdie rustige dorpie te woon. Despatch se mense gee regtig om vir mekaar.”
Na meer as 52 jaar op Despatch voel Pieter steeds deel van die mense om hom en het hy geen planne om sy besigheid enige plek anders as net hier te bedryf nie.
Pieter is een van menige kleiner handvaardigheid-sakelui en ander kleiner ondernemers wat deel isvan die hegte Despatch-gemeenskap waar eenmanbesighede nog goed deur die plaaslike inwoners ondersteun word.



