Uitgebreide openbare protes het daartoe gelei dat die Wysigingswetsontwerp op die Beheer van Vuurwapens (FCA) teruggehou is, volgens DA-skaduminister van polisie, Andrew Whitfield, LP.
Die wetsontwerp het ten doel om Suid-Afrikaners die reg te ontsê om vuurwapens vir selfverdediging te registreer.
“Die terughouding van die wetsontwerp is ‘n triomf wat op die doeltreffendheid van openbare druk dui,” het Whitfield gesê.
Volgens Gabriel Crouse van die South African Institute of Race Relations “ (IRR) het tienduisende Suid-Afrikaners hul opinies bekendgemaak en is feitegebaseerde argumente op minister Bheki Cele se tafel geplaas. “Om hierdie rede is die aksie gestaak wat mense wil ontwapen wat hulself net wil verdedig.”
Die IRR het ‘n omvattende veldtog gevoer as deel van die druk teen die FCA. In Junie het die IRR se bewysgebaseerde verslag deur Nicholas Lorimer, Don’t Add Chaos To Disorder, die swakhede van argumente blootgelê wat daarop gemik is om wetsgehoorsame burgerlikes te ontwapen. ’n Maand later is die verslag se legitimiteit deur die Julie-onluste bevestig. Suid-Afrika het getuig van die hopelose vlakke van polisie-onbevoegdheid, en burgers van Durban tot Soweto se dringende behoefte om hulself in die afwesigheid van polisiebeskerming te verdedig.
Meer as 20 000 Suid-Afrikaners het deur die IRR se portaal petisies teen die FCA-wetsontwerp ingedien. Hierdie petisie is aan die burgerlike sekretariaat van die polisie – die liggaam wat verantwoordelik is vir die indiening van die gevaarlike FCA-wetsontwerp – gestuur. In die lig van openbare druk blyk die sekretariaat onseker te wees oor hoe die wetsontwerp vorentoe gedryf moet word.



