As jy ’n leeu wil sien wat tjello speel, moet jy op Despatch gaan kyk.
Maar maak jou reg om dié unieke kombinasie, in dieselfde kleurskakering, op skilderdoek te sien. Die skepper is Paul Kloppers (76) – ’n kunstenaar van dié dorp.
Dit is byna die uitbeelding van ‘Laat die leeu se oorwinningslied gehoor word’ en is glad nie binne die Groot Vyf-tema geskep nie. Die Groot Vyf-tema verwys na die leeu, luiperd, olifant, buffel en renoster as die mees gesogte wilde diere vir trofee-jag.
Paul, ook ’n groot diereliefhebber, het sy verfkwaste opgetel toe dit blyk dat leeuteel en geblikte leeu-jag se dae getel is ná *Barbara Greecy, minister van visserye, bosbou en omgewingsake, se bekendmaking van ’n hoëvlakpaneel-verslag oor jag, handel, aanhouding, bestuur en hantering van olifante, luiperd, leeus, en renosters.
Van die aanbevelings is dat ’n verbod geplaas moet word op geblikte leeujag, asook die teel van leeus in aanhouding, menslike interaksie met welpies en newe-bedrywe soos die handel in leeubeendere.
Paul sal sielsverlig voel wanneer daar ’n einde aan die gruwels teenoor leeus kom.
“Die speelveld is nie gelyk nie. Daar word gepraat van mensvreter-leeus en hulle moet dus doodgemaak word. Maar die mens mag jag vir plesier en eet ook vleis of hoe?”
Paul is sterk gekant teen die mishandeling en misbruik van diere. Hy sê die mens moet van jongsaf geleer word om in harmonie met die natuur te lewe en alle diere te respekteer en nie deel te wees van gruwels soos bulgevegte, geblikte leeujag, sportjag en diere wat sirkustoertjies moet doen.
“Ek beaam wat Mahatma Gandhi gesê het dat ’n nasie se integriteit gemeet kan word aan hul optrede teenoor diere.”
Paul se eerste skildery sowat 70 jaar gelede was dié van ’n kanarie.
“Reeds as klein seuntjie het dit my gefassineer om menslike toebehore aan diere te gee. Soos my ‘Jacomina die seekoei’ wat glimlag met krale om die nek. Dit is juis omdat ek glo diere weet baie meer van die mens as wat ons dink. Wat sou hulle van ons sê en aan ons doen as hulle kon praat of oor die aarde sou heers?”
Paul het as kunsstudent daarvan gehou om beelde van diere te maak met Bybeltemas soos “Simson en die Leeu” en ook die “Verlore Seun tussen die Varke”.
Hy kyk weer na sy nuutste leeu-skepping.
“In Psalm 148 staan daar alle lewende wesens en ook wilde diere van die veld moet God prys. En in Psalm 150 staan daar om dit te doen met onder andere snaarinstrumente. Hierdie leeu was gelukkig om ’n tjello in die hande te kry.”
* Minister Greecy se aankondiging van die hoëvlakpaneel-aanbevelings rakende regulatoriese maatreëls van wildbedrywe (olifante, leeus, luiperds en renosters) en sommige jagmetodes, kom te midde van ’n sterker internasionale stem teen die mens se misbruik en vernietiging van die natuur.
Volgens sommige wetenskaplikes kan daar ’n verband tussen die aftakeling van die natuur en wilde dier en die oorsaak van dodelike pandemies wees.
Willemien Brummer/Netwerk24 skryf in haar artikel “Covid-19 net die begin: Pandora-kis van pandemies wag” dat die ondersoekende omgewingsjoernalis dr. Adam Cruise in sy boek It’s Not About the Bats, It’ About Us, skryf die kern van die pandemie-probleem is die mens se antroposentrisme – “ons egotistiese beskouiing dat ekostelsels, plante, bome en diere vir die uitsluitlike voordeel van mense bestaan.”
Brummer sê, “Kortom . . . die mens het die natuur en alles daar binne as ’n pretpark begin sien.”
Paul sê hy ondersteun alle organisasies wat hulle stemme dikmaak vir diereregte en dierebeskerming.
“Die mens kan nie so aangaan om die natuur te vernietig nie, dit gaan die mensdom nog duur te staan kom,” waarsku hy.




