WIE se pampoen gaan volgende jaar die swaarste weeg in die Sondagsriviervallei?
Die Langstingels Pampoenkompetisie is vanjaar vir die tweede agtereenvolgende jaar op Kirkwood by die dorp se gholfklub aangebied. Dit is die inisiatief van die Langstingels-studiegroep.
Ferdi Smith, voorsitter van die studiegroep sê daar is ’n paar studiegroepe in die vallei wat byeenkom om sake rondom sitrus en landbou te bespreek.
“Ons groep, die Langstingels, het besluit om ’n pampoenkompetisie te hou, sommer vir die pret en om al die studiegroepe sowel as die inwoners van die vallei te laat saamkuier,” sê Ferdi.
“Nou raak die kompetisie al gewilder en die pampoene al groter. Verlede jaar se swaarste pampoen het 46kg geweeg en vanjaar het die skaal op 117kg gaan staan. So ons sien uit na volgende jaar wie se pampoen die swaarste gaan weeg.”
Saad van die Atlantic Giant pampoen word ontkiem en in houers geplant. Die plantjies word dan September/Oktober se kant verkoop aan mense wat aan die kompetisie wil deelneem.
“Dit is elke deelnemer se eie verantwoorde-likheid om die pampoenplantjie te plant en te versorg. Gewoonlik is die pampoene so in die eerste of tweede week van Maart reg vir inweeg.
“Hoe die deelnemers die pampoene groot kry en watter voeding hulle dit gee is elkeen se geheim.”
Ulrica Stiemie, is een van die vroue wat vanjaar deelgeneem het en sy het die Langstingel-prys gewen.
“Dit is baie prettig. My pampoen het stingel-stres gekry en toe laat los. So, ek en my pampoen het uit die bus geval wat die swaarste pampoen betref, maar ek kan spog met die langste stingel en het reg geraai hoeveel kilogram die wenpampoen geweeg het,” se Ulrica.
“Ons is opgewonde oor die pampoenkom- petisie want dit is ’n heerlike saamkuier vir ons mense hier in die Sondagsriviervallei.”
Ongeveer 30 pampoene is vanjaar ingeweeg en die bobaas pampoengroeiers was:
Jacques Ehlers wat gewen het met sy pampoen van 117kg; Michal Ehlers was tweede met sy pampoen van 86kg en Chris Pickels derde (77kg). Ulrica het die Langstingel-prys gewen vir die pampoen met die langste stingel en Visser Naude het die Dikstingel-prys gewen.




