Toyota Land Cruiser is in Augustus 1951 bekendgestel en vier vanjaar sy 70ste bestaansjaar. Hoewel die modelreeks aansienlik uitgebrei het, bly die kern DNS van die model in die metaalwerk ingeburger.
Dit was oorspronklik ‘n militere vierwielaangedrewe voertuig met ‘n kragtige enjin en het as die Toyota BJ bekendgestaan. Die naam Land Cruiser is in 1954 geskep toe die model na die burgerlike mark uitgebrei is met die Brits-geboude Land Rover as mededinger.
Daarna het die Land Cruiser-familie groter geword met die nuutste, die Land Cruiser 300. Dié nuweling is met inspirasie van sy voorvaders vervaardig om ’n ry-ervaring van die hoogste kaliber te lewer ter herdenking van die Land Cruiser se 70ste bestaansjaar.
Hervervaardiging van ou onderdele
Ter viering van dié model se 70ste verjaarsdag het Toyota Gazoo Racing ook aangekondig dat Land Cruiser by sy GR-erfenisonderdeleprojek ingesluit sal word. Die onderdele word vir die 40-reeks Land Cruiser, wat tussen 1960 en 1984 vervaardig is, hervervaardig.
Die projek hervervaardig onderdele wat gestaak is en verkoop dit as egte onderdele deur ’n spesiale samewerking met verskaffers ten einde klante te ondersteun wat wil voortgaan om hul ouer voertuie, wat goeie herinneringe herroep, te bestuur.
Land Cruiser modelle waarvan vervaardiging al ’n paar dekades gelede gestaak is, word steeds deur ’n groot aantal klante oor die hele wêreld heen gery. ’n Tekort aan onderdele is egter die afgelope jare ervaar en Land Cruiser-eienaars het hul vrese uitgespreek dat hulle nie meer hul voertuie sal kan onderhou nie.
Toyota Gazoo Racing het die besluit om hierdie rede geneem om onderdele waarvoor die grootste vraag en behoefte bestaan, te hervervaardig sodat klante hul gekoesterde voertuie veilig en met volle gemoedsrus kan aanhou bestuur.
Hierdie onderdele word as “erfenisonderdele” verskaf, en sluit enjins, dryfstelsels en uitlaatstelsels in. Beskikbaarheid van onderdele sal aangekondig word namate voorbereidings afgehandel is, met ’n teikendatum van begin 2022.
Plaaslike Land Cruiser-sukses
Verkope van die Land Cruiser 300 het ook op plaaslike bodem reeds begin. Die 70-reeks het ondanks baie moeilike bedryfstoestande in Julie 21 ’n indrukwekkende 251 verkope aangeteken, terwyl die Prado op sy beurt 69 verkope gehaal het. Die Land Cruiser Prado is die volgende in die ry vir ’n spesifikasie-opdatering. Die hersiene modelle behoort tydens die Land Cruiser se vieringmaand in Augustus in die vertoonlokaal te verskyn.
Toyota Suid-Afrika Motors sal in die gees van dié mylpaal van 70 jaar ook ’n spesiale Special Edition-model bekendstel, wat op die 70-reeks gegrond is. Hoewel die ontwikkeling nog aan die gang is, kan klante hul belangstelling by hul naaste Toyota-handelaar aanmeld – met die vieringsmodel wat vir sy buiging in die vierde kwartaal geoormerk is.


