Vrydag gaan die koppe weer draai op Despatch wanneer die Klipspatchers, veertien mansatlete in klein pers swembroekies, deur die strate hardloop om bewusmaking te skep oor prostaatkanker.
“Die ys is verlede jaar gebreek. Die ouens was baie senuweeagtig om met die swembroekies deur die strate te hardloop, maar vanjaar weet ons wat voorlê,” sê Helgard Potgieter, voorsitter van die Despatch Atletiekklub.
“Ons sien baie uit na ons deelname aan die Hollard Daredevil Run, want dit gaan vir ’n goeie doel.
“Dit vat guts om in hierdie klein swembroekies deur die state te hardloop, véél meer guts as om vir ’n prostaattoets te gaan.
“Dit is die rede hoekom ons aan die Daredevil deelneem, om manne aan te moedig om na hul gesondheid om te sien en die toets te gaan doen.”
Een uit ses SA mans kry prostaatkanker
Die Hollard Daredevil Run word jaarliks op 30 September nasionaal aangebied en grepe van die Klipspatchers se pers-swembroekie-hardloop deur Despatch gaan lewendig op SuperSport uitgesaai word.
Prostaatkanker is die mees algemene kan-ker in Suid-Afrika en studies toon dat een uit elke ses mans daarmee gediagnoseer word.
Netwerk24 berig dat Dr. James Urry, ‘n uroloog, tydens die 33ste tweejaarlikse kongres van die Suid-Afrikaanse Urologiese Vereniging, wat in Bloemfontein gehou is, gesê het mans van Afrika-herkoms is meer geneig om aan prostaatkanker te ly.
“Die rede hiervoor is nog onbekend. Ons hoop om deur navorsing en, deurdat meer mans van Afrika-herkoms hulle gereeld laat toets, genoeg data te kan versamel om tendense te identifiseer en sodoende te weet hoe om prostaatkanker te bekamp,” het Dr. Urry gesê.
Klipspatchers se roete
Die Klipspatchers se 5km roete begin Vrydag 15:00 by die Despatch sentrale sportveld se parkeerarea in Frans Claasenstraat.
Vandaar draai hulle regs in die hoofstraat tot voor die brug, links in Strydomstraat, dan weer links in Hollandstraat tot by Despatch Superspar waar Paul Barnes en sy span ‘n tjek aan die manne ter ondersteuning van die Hollard Daredevil Run gaan oorhandig.
Daarna sal die Klipspatchers die roete volg terug na die beginpunt by die sentrale sportveld.
“Verlede jaar se ondersteuning en gees langs die pad was ongelooflik lekker. Vanjaar sal ons pom-pom girls – meestal vrouelede van die atletiekklub – weer daar wees om hardlopers aan te moedig,” sê Helgard.
“Despatch Atletiekklub is altyd reg vir ’n goeie uitdaging en ons waardeer die dorp se opgewondenheid en ondersteunig met hierdie swembroekie-hardloop.”
Despatchers kan solank hulle selfone en kameras regkry vir goeie aksiefotos, want dit is net een keer ’n jaar wat dié brawe manne in pers swembroekies die strate aandurf!
- Besighede of individue wat ook wil bydra tot die Daredevil Run is welkom en kan Helgard Potgieter bel by 084 606 5601.





