“Jy hoor daai karre lank voor jy hulle sien. Hulle is ongelooflik kragtig. Wys my nog ’n kar uit daardie jare wat soos die Can-Am 120km/h in eerste rat kan ry!”
En die geleentheid is nou hier, benadruk Pierre Janse van Rensburg, voorsitter van die Concept Crew motorklub, want vyf van hierdie super-skaars kragvrate sal op 21 Oktober by die Alles op Wiele Van Toeka tot Nou Motorskou op Despatch te sien én te hoor wees.
Die ikoniese Can-Am se volle naam is die 1973 Chevrolet Firenza Can-Am 302 V8 en 50 jaar gelede is slegs 100 Chevy Can-Ams by die destydse General Motors produksieaanleg in Kempstonweg in die Baai vervaardig.
Die Chevy Can-Am V8 uitstalling word moontlik gemaak deur Rudolf de Vos, ’n sakeman van Humansdorp en bekende in wedrenkringe.
Met sy opgewarmde Can-Am wedrenmotor behaal hy vanjaar die een na die ander sege op nasionale wedrenbane. Volgens De Vos is daar slegs 16 oorspronklike Chevy Firenza Can Ams oor in die wêreld. Dié karre het R5 800 in 1973 gekos, maar deesdae kan jy ’n oorspronklike Can-Am vir R1,5 miljoen aanskaf.
Volgens Janse van Rensburg gaan daar ook ’n paar honderd ander interessante, unieke, mooi, ou, nuwe en rare rygoed op wiele by die Alles op Wiele motorskou wees. Dit word op 21 Oktober op die Laerskool Frans Conradie se sportgronde aangebied.
“Enigeen wat ’n skouwaardige voertuig het is welkom om in te skryf. Enigiets op wiele is welkom en dit sluit in karre, bakkies, bussies, motorfietse, driewielmotorfietse of enigiets anders wat interessant is, solank dit op wiele is,” sê Janse van Rensburg.
Inskrywings is gratis.
“Dit gaan oor die liefde vir rygoed. Daar is so baie ouens wat ’n juweel van ’n ryding in die garage het en dit is die tipe voertuie wat ons hier wil sien.
“Of dit nou ’n barn find of patina (roesvoorkoms) het, bring dit. Vir petrolkoppe soos ons wat mal is oor karre, gaan dit ’n lekker belewenis wees om so ’n groot verskeidenheid voertuie van toeka tot nou te sien.”
Die mikpunt is om vanjaar 450 inskrywings te kry.
Queenstown Motorklub, die oudste motorklub in Suid-Afrika, gaan vanjaar 16 van hul spog-rygoed na die motorskou bring. Buiten klubs en privaat inskrywings gaan ’n hele paar motorhandelaars en onderdeleverskaffers ook by die motorskou uitstal.
“Ek kan nie wag om al die rygoed te sien nie. Jissie man, as ’n mens met petrol in jou are nie hieroor excited raak nie, moet jy jou olie check of iets … dan is daar iewers fout,” sê Janse van Rensburg.
Inskrywings kan gedoen word by lede van Concept Crew en deelnemers moet hulle asseblief vergewis van die skoureëls. Concept Crew is ’n lid van die South African Vintage & Veteran Association (SAVVA). Dit is vanjaar die motorklub se twaalfde bestaansjaar en hul tweede motorskou. Verlede jaar het sowat 2 800 mense die motorskou besoek waar 320 rygoed uitgestal is. Vanjaar se Alles op Wiele van Toeka tot Nou Motorskou word geborg deur Peter Benn Motors, Corkwood Square Mall, Klinicare-apteekgroep, SH Blinds, Algoa Steel en Speedyquip.
Daar sal ’n verskeidenheid stalletjies wees met van kosse, drinkgoed, motorverwante produkte tot allerlei snuisterye. Toegang is R30 vir volwassenes, R20 vir pensioenarisse en R10 vir skoliere.
Die motorskou-organiseerders is nie net petrolkoppe nie, hul harte klop ook op die regte plek as dit kom by liefdadigheid en daarom sal ’n gedeelte van die dag se inkomste aan ’n plaaslike en welverdiende nie-winsgewende organisasie geskenk word.
Vir meer inligting bel vir Pierre Janse van Rensburg by 068 272 4117 of stuur ’n e-pos na jansevanrensburgpj@gmail.com.
– UITGEREIK DEUR CONCEPT CREW MOTORKLUB





