Nadia Barnard (middel) met haar twee kombuis-assistente Monica Apools en Nadine Barkat.


MET Nadia en Eugene Barnard aan die stuur, en kombuis-assistente Monica Apools en Nadine Barkat aan hul sy, het Despatch se nuutste koffiewinkel ná minder as twee maande reeds naam in die dorp gemaak.

Finesse Café het op Saterdag, 13 Julie, sy deure amptelik oopgemaak en luidens Nadia, was dit die NG Kerk Retief se inisiatief.

“Hulle het dit beskikbaar gestel vir iemand om ’n koffiewinkel op die perseel te bestuur en ons het maar net van die geleentheid gebruik gemaak. Dit was my en my man se droom,” het sy vertel.

Gedurende die week bied hulle ’n wye verskeidenheid van eetgoed en soetgoed op hulle spyskaart aan, maar op Saterdae werk dinge bietjie anders. Hulle hou dan ’n ontbyt-buffet waar vriende en familie gesellig saam kan kuier en eet soveel soos hulle wil of kan teen slegs R70 per volwassene en R40 per kind onder die ouderdom van 12.

Nadia beskryf haar man, Eugene, as “’n kranige bakker”. Die lekkernye by Finesse Café is nie van kitsmengsels afkomstig nie, maar word met liefde deur Eugene gebak en brou.

Maar eet en drink is nie al wat op jou wag by Finesse Café nie. Dit dien ook as ’n tuisnywerheid en geskenkwinkeltjie, waar kunswerke, sommige deur Eugene geverf, ook uitgestal word. Hulle beplan ook om teater-aande daar te hou. Finesse Café word ook beskikbaar gestel vir klein funksies soos ’n ooievaarstee, kombuistee ens.

“Ons wil ’n gesellige atmosfeer vir die mense skep. As jy jou vriendin wil uitvat vir koffie en bietjie privaat gesels, is dit die plek om dit te doen. Mense kan gemaklik voel, nie gejaag nie, en is welkom om hulle kinders saam te bring. Daar is vir hulle ook ’n spesiale hoekie uitgemerk.

Teater-aand in September

Finesse Café sal sy eerste teater-aand op 5 September om 19:00 hou. Hulle beplan om een keer ’n maand só ’n aand te hou. Sitkamer Soiree Huiskonserte gaan Krog, Breytenbach & ’n handvol klawers met Ian Venter en Surien Ras aanbied. Gehoorlede kan uitsien na poësie van Breyten Breytenbach, Elisabeth Eybers, ID du Plessis, Antjie Krog en vele meer, met die bekwame Surien op klavier. Toegang tot die aand is R120 en sluit southappies in.

  • Finesse Caféis geleë in die NG Retief kerksaal op die hoek van HF Verwoerd-rylaan en Van der Spuystraat. Hulle is oop op Dinsdae en Woensdae van 09:00 tot 16:00, Donderdae van 10:30 tot 17:00, Vrydae van 09:00 tot 17:00 en Saterdae van 08:00 tot 13:00. Vir meer inligting besoek die Finesse Café Facebook-blad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article