Dowwe Dolla het beplan om einde 2020 haar stiletto’s op te hang en haar lollie op Gumtree te verkoop, maar antie Corona en haar niggie Nkosozana het haar Koebaai-waai vertonings effe vertraag.
Nou sê Dolla, vang my nou op stage of nooit!
Dolla is terug op die langpad en gaan koers kies na die Oos-Kaap waar sy op 2 en 3 November op Kariega gaan oorstaan vir haar Koebaai-waai-stop-start-toer by Barkly-straat Teater.
“In fact, ek moes laasjaar April hierdie shows gedoen het en toe raak dit Augustus en toe raak dit einde Februarie en bietjie meer as ’n jaar later kan ek uiteindelik hierdie toer afhandel. Daarom noem ek dit my Koebaai-waai-stop-start-toer,” sê Margit Meyer-Rödenbeck, of dan Dolla soos almal haar ken.
“Wokeness staan sterk en kunstenaars is sonder werk, Cyril se paddas is in die pot en Ace is besig om te plot terwyl Eskom se volgende reddingspakket die Blitz & Charcoal hamper is,” sê Dolla.
In die Koebaai-waai vertoning is Margit Meyer-Rödenbeck, alias Dowwe Dolla en Ouma Dowe Dolla, saam met Coenraad Rall op klavier. Die teks en regie is versorg deur Jurgen Human. Geen onder 16’s word toegelaat nie aangesien Ouma Dowe Dolla nie ’n wag voor haar mond het nie.
Vir meer inligting oor die vertoning om 20:00 by Barkly-straat Teater of om plek te bespreek bel 071 871 6940.
WEN! WEN! WEN!
Twee gelukkige UD Express-lesers staan die kans om elk dubbelkaartjies na Dowwe Dolla se vertoning op 3 November te wen. Om in te skryf gaan na die UD Express se Facebook-blad en volg die kompetisie-instruksies.





