Taylor Heymans vier op 30 Oktober haar 24ste verjaarsdag met ’n deurry-partytjie.

Foto: Anika de Beer

Jare gelede het die dokters vir Zuska en Paul Heymans gesê hulle enigste dogter gaan waarskynlik nie negejarige ouderdom bereik nie.

Sy het hulle verkeerd bewys. Toe word 13 die volgende uitdaging. En sy het hulle weer haar staal gewys.

Hierdie maand, op 30 Oktober, vier Taylor Heymans al haar 24ste verjaarsdag.

Haar ouers het eers ná sy in Uitenhage Provinsiale Hospitaal gebore is, uitgevind sy het spina bifida, ’n toestand wat veroorsaak dat ’n baba se rugmurg nie ontwikkel of behoorlik toemaak in die baarmoeder nie.

“Ek het na die keisersnee wakker geword en gehoor daarvan. Sy is op 30 Oktober gebore, die volgende oggend Baai toe verplaas en die Maandag geopereer toe sy maar 48 uur oud was,” het Zuska vertel.

Taylor was in St George-hospitaal tot 22 Desember voordat sy weer terug na die hospitaal op Kariega verplaas is. Die dokter het haar net ontslaan vir Kersdag. Sy kon eers in Februarie die volgende jaar huistoe gaan.

In haar eerste twee jaar het sy 25 operasies ondergaan.

Maar moenie dink dit sou haar ooit onderkry nie. Ma en dogter veral het baie stories om te vertel van Taylor wat jou sal laat skaterlag – dit sluit haar matriekafskeid by Sunshine Skool in en die neurochirurg wat sy op sesjarige ouderdom vertel het wat sy dink van sy kerkdag mode-keuses.

Vir Taylor is dit al jare lank ’n droom om haar naam en foto in die koerante te sien.

Haar twee broers – Sadge wat vyf jaar ouer is en Rémy wat vyf jaar jonger is – is albei kranige rugbyspelers, veral op skool, en het al talle kere in die koerante verskyn.

heymans

Die Heymans gesin. Van links is Paul, Rémy, Zuska en Sadge, en voor is Taylor.

Hierdie keer is dit haar beurt, spesiaal te viering van haar verjaarsdagmaand.

Deel saam in die verjaarsdagvieringe

Zuska het ’n tyd terug ’n blink idee gekry om die gemeenskap te nooi om Taylor se verjaarsdag saam met haar te vier met ’n deurry-partytjie.

Die Heymans nooi almal wat sou belangstel om op Woensdag, 30 Oktober, ’n draai te maak by hulle by Lavender-singel 62 in Fairbridge Heights, Kariega, en ’n klein geskenkie af te laai of selfs net met verjaarsdagwense vir Taylor in ruil vir ’n kolwyntjie.

Sy is nie kieskeurig oor die tipe geskenkies nie, maar is veral mal oor gummies (lekkergoed), sjokolades, parfuums, enige kuns items, wierook, perde, die see en die kleur turkoois. En sy spaar tans vir ’n nuwe selfoon.

“Ek sê net dit maak nie saak wat jy in die lewe kry nie, maak nie saak hoe groot of klein dit is nie, wees net dankbaar,” sê Taylor.

Haar ouma het haar dit geleer.

Hulle beplan om ’n tafel of twee voor die huis op te sit vanaf 16:00 tot 20:00 vir die deurry-partytjie.

“Sy is mal oor geskenke. Ek dog toe ek gaan laat almal wat wil hier deurry en ’n geskenkie afgooi vir haar en dan gaan ons ’n cupcake gee vir almal wat hier ’n draai kom maak,” vertel Zuska.

“Ek het gesê ek gaan eers 15 mense nooi en kyk of hulle sal belangstel en as 10 ja sê, dan gaan ek dit doen. Al 15 het gesê hulle is daar.

“Ek het sommer gehuil van blydskap. Aag, al ry daar ook net 20 in totaal verby sal dit die moeite werd wees. Ons wil net die dag vir haar spesiaal maak.”

Taylor se ander verjaarsdag planne sluit in ’n rit na die see, lekker soesji en miskien ’n roomys.

  • WhatsApp die aantal mense in die voertuig wat aan die deurry-partytjie gaan deelneem na 073 764 2389. Die gesin wil seker maak daar sal genoeg kolwyntjies wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article