’n COBRA wat met 300 perde se krag onder sy enjinkap ’n kwartmyl binne sekondes kafdraf, is een van die karre wat Saterdag by die jaarlikse “karre, koffie en koekies” uitstalling in Noordeinde te sien is.
Dit is een van twee Cobras wat dekades gelede deur motorentoesias Leon Laubscher gebou is. Albei sy Cobra-sportmotors sal te sien wees by Speedyquip se Cars & Coffee-motorskou.
Hier is nie net die koffie en koekies gratis nie, maar ook deelname van motorentoesiaste om hulle nuwe, ou, veteraan, eksotiese of opgeboude motors uit te stal.
Laubscher se twee Cobras behoort nou aan sy twee seuns, Jaco en Leon (junior), albei van die Baai.
Jaco se Cobra is 27 jaar gelede deur sy pa gebou en die bakwerk-pakket is gekoop by Shamrock Marine in Kaapstad.
Onder dié enjinkap is daar ’n kragtige V8 Cleveland 351 wat ’n C4 outomatiese ratkas aandryf en 280 perdekrag lewer wat maak dat daar binne 13.7 sekondes met ’n kwartmyl afgereken word.
Leon se Cobra is 15 jaar gelede deur sy pa, Leon senior gebou. Dit is die een met 300 perdekrag wat uit ’n 351 Windsor-enjin kom.
Albei Cobras is gewilde karre by motorskoue en is ook gesog vir matriekafskeide en flambojante funksies.
Die Cars & Coffee motorskou word Saterdag, 3 Augustus by Prins Albertweg in Noordeinde gehou vanaf 08:00 tot 12:00.
Almal is welkom om ’n beker koffie en koekies te kom geniet terwyl daar na mooi, kragtige, snaakse en vinnige karre gekyk word.
- Vir meer inligting bel Derek by 082 825 0811 of Jerome 082 653 6579.




