IN wat beskou word as die braafste wedloop nog, het Despatch se Klippendales vir groot pret gesorg toe hulle afgelope Saterdag in hul pers Speedos die 5km Hollard Daredevil Run deur die dorp gehardloop het ter wille van die bewusmaking van prostaat en testikulêre kanker.
Dit was vanjaar die eerste keer sedert dié uitdaging 12 jaar gelede begin is, dat atlete op hul eie, in klein groepe en enige plek, hul eie 5km roete kon hardloop. Despatchers het die geleentheid aangegryp en 12 atlete van Despatch Atletiekklub het deelgeneem onder die naam Klippendales, ‘n samestelling van Klipspatchers en Chippendales.
Helgard Potgieter, die voorsitter van die Despatch Atletiekklub, het gesê die meeste mans ken iemand wat deur prostaat- of testikulêrekanker geraak is.
“Ek dink ons het defnitief in ons doel geslaag om ons deel te doen met hierdie bewusmakingsveldtog. Dit is ‘n voorreg om deel van nie nét so ‘n spesiale atletiekklub te wees nie, maar ook van so ‘n spesiale dorp en sy mense. Die publiek se reaksie was ‘n verrassing. Hul opgewondenheid was aansteeklik en het soos ‘n veldbrand versprei.
“Die verwelkoming wat ons “Klippendales” by Despatch Superspar gekry het, was natuurlik onbeskryflik. Wat ‘ n voorreg was dit nie toe Paul Barnes, eienaar van Despatch Superspar, omring deur geesdrifte werknemers, aan ons n tjek van R5000 ten bate van die Hollard Daredevil 2021 fonds oorhandig. Dít is nou iemand wat nie skroom om betrokke te raak waar dit nodig is nie.“
Heidi Brauer, hoofbemarker by Hollard het ook haar tevredenheid oor die geleentheid uitgespreek. “Met die Hollard Daredevil Run wys die deelnemers dat hul nie bang is om in net ‘n Speedo in die openbaar te hardloop nie. Ook dat hulle nie bang is om oor prostaat- en testikulêrekanker te praat of om daarvoor getoets te word nie.”
Die geld wat met die Daredevil Run ingesamel word, is ten bate van Kankervereniging van Suid-afrika (Kansa) en die Prostaatkankerstigting van Suid-Afrika.
Helgard sien nou al uit na 2022 se Daredevil Run. “ Ons sal dit soveel groter doen. Baie dankie aan elkeen wat ons langs die pad ondersteun het, dit is altyd lekker as ‘n mens iets goed doen en daar is soveel mense wat jou ondersteun.”
- Hoogtepunte van vanjaar se Hollard Daredevil Run word op Supersport kanaal 207 vanaf Dinsdag 18:00 uitgesaai.





