Twaalf atlete van Despatch Atletiekklub het as die Klippendales aan vanjaar se Hollard Daredevil Run verlede Vrydag deelgeneem om bewusmaking te skep oor prostaatkanker.
“Die gees was fantasties. Die publiek het ons goed ondersteun oral langs die roete en ons pom-pom dames het ons ook deur die hele roete aangemoedig. By Despatch Superspar is ons met ‘n groot gejuig ontvang,” sê Helgard Potgieter, voorsitter van die Despatch Atletiekklub.
Paul Barnes, eienaar van Despatch Superspar, het soos verlede jaar ‘n tjek van R5 000 ten bate van die bewusmakingsprojek oor prostaat- en testikulêrekanker aan die Klippendales oorhandig. Prostaatkanker is die mees algemene kanker in Suid-Afrika en studies toon dat een uit elke ses mans daarmee gediagnoseer word.
“Dit is lekker wanneer ons iets vir ‘n goeie doel doen en ons die ondersteuning van ons plaaslike besighede kry,” sê Potgieter.
“Dankie aan almal wat ons ondersteun het. Ek dink ons het darem die dorp so bietjie (in pers) opgehelder in hierdie donker beurtkragtyd. Ons het dit verskriklik geniet en sien reeds uit na volgende jaar!”





